

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 February 2009
Die nuus van nog ‘n sinnelose moord, dié keer op die 78-jarige mev. Tienie Botha van Louis Trichardt, het weereens die Soutpansberg-gemeenskap tot in hul fondamente geskok.
Skaars het mev. Botha se huurder haar Donderdagoggend, 19 Februarie, gegroet en gery, toe sy deur ‘n groep van vier mans in haar pragwoning in Rivierstraat oorrompel is. ‘n Vyfde verdagte het die area om die huis met ‘n voertuig gepatrolleer. Die voorval het tussen 07:10 en 07:50 plaasgevind.
Die mans het toegang tot die erf verkry deur eers ‘n gedeelte van die palisade heining weg te buig en daarna die diefwering voor een van die vensters op die stoep af te knip.
Omstreeks 07:50 het ‘n groep verwers, wat besig was met opknappingswerk by die huis, opgedaag. Hulle het hulle vasgeloop in die groep rowers, wat in daardie stadium besig was om die huis te verlaat. Die gewapende mans het die verwers beveel om plat te lê in die oprit, waarna hulle op die vluggeslaan het.
Die verwers het oomblikke later hul werkgewer geskakel, wat op sy beurt die polisie ontbied het. Met hul aankoms op die toneel is mev. Botha se liggaam in die huis gevind. By verdere ondersoek is die brandkluis in die huis oop gevind. Sewe vuurwapens was vermis, asook van mev. Botha se persoonlike besittings en juwele.
Van die polisie se top speurders en personeel is na die toneel ontbied. Te midde van die intensiewe ondersoek het hartseer tonele voor die huis afgespeel met familielede en vriende wat mekaar op die sypaadjie vertroos het.
Die rowers se sukses was egter van korte duur, want skaars 14 uur later is vier verdagtes by ‘n padblokkade buite Polokwane aangekeer. Hulle is aangekeer nadat hulle versuim het om by die padblokkade te stop. Die polisie het hulle agternagesit en gearresteer. Al die wapens, asook van die gesteelde goedere, insluitend van mev. Botha se juwele, is volgens die polisie in hul besit gevind. Die volgende dag is ‘n vyfde verdagte op Elim gear-resteer.
“By enige iemand wat weens hoë ouderdom of siekte sterf, was daar ‘n bepaalde verwagting. As so ‘n persoon sterf, laat dit nie so ‘n groot skok nie, maar as iemand op so ‘n wreedaardig wyse van ons weggeneem word, is dit soveel erger. Die gemeenskap en ons is geskok,” was die woorde van mev. Botha se seun, bekende plaaslike prokureur mnr. Pieter F Botha. Hy het Dinsdag met die Zoutpansberger oor die dood van sy ma gepraat. Vir mev. Botha se een dogter, mev. Susaar Schlesinger, is die dood van haar ma eweneens hartseer.
“Ons is verkul met die lewe. Ek bedoel, sy kon dalk nog 10 jaar na ons geleef het. Dit is so sinneloos; hoekom het hulle nie net die goed gevat en geloop nie?” het mev. Schlesinger aan die koerant gesê. Sy het haar ma as ‘n feno-menale mens beskryf.
“Ek kan dit nou nog nie glo nie. Dit is nog so onwerklik.”
Dit is duidelik dat knap polisiewerk gelei het tot die arrestasie van die verdagtes. Soos wat die familie boodskappe van vertroostinge uit alle oorde ontvang het, selfs van onbekendes uit die buiteland, is die polisie ook vanuit alle oorde geprys vir hul flinke en uiters professionele optrede. Die voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, mnr. Dirk Meissenheimer, was een van dié wat die polisie geloof het vir hul goeie werk. Aan die ander kant het plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadiki, ook baie lof gehad vir die gemeenskap wat hulle bygestaan en van inligting voorsien het in hul ondersoek.
“Dit is goed. Ons kan nie alleen teen misdaad veg nie,” het Sadiki gesê.
Die vyf verdagtes het Maandag in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn (lees meer hieroor op bladsy 3). Hul saak is uitgestel tot 2 Maart. Intussen is ‘n nadoodse ondersoek Dinsdag op wyle mev. Botha uitgevoer om die oorsaak van haar dood te bepaal. Teen druktyd was die uitslag van die ondersoek egter nog nie aan die koerant bekend nie. Die vermoede be-staan dat sy verwurg is.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
