ADVERTISEMENT:

 

Ouers Frik en Sougnet Nel met ‘n foto van hul seun, wyle Johan Nel (36).

Oorskot dalk dié van hul geliefde seun

 

News  Date: 27 February 2009

 

Vir die ouers van die 36-jarige Johan Nel wat op 8 September verlede jaar verongeluk het, is daar nog geen rus vir hul siele nie. Pa Frik (68) en ma Sougnet Nel (63) van Louis Trichardt wag steeds op hul seun se oorskot.

Johan is op slag dood, nadat sy voertuig en ‘n vragmotor naby Brits in Noordwes Provinsie gebots het. Beide voertuie het uitgebrand, met Johan wat in sy bakkie verkool het. Twee dae later het Frik en Sougnet na Brits gereis om hul seun se oorskot op te eis. Hulle is egter meegedeel dat hulle nie die lyk mag vat nie, aangesien DNS-toetse eers gedoen moes word om te bepaal of dit wel Johan is. Op 12 Desember is die Nel-egpaar laat weet dat hulle Johan se lyk kon kom haal. Die uitslag van die DNS-toets was positief dat dit wel hy was.

Avbob is vir dié taak afgevaardig, maar die Staat wou nie die liggaam aan Avbob oorhandig sonder die toestemming van die familie nie. Dit is egter reeds by ‘n vorige geleentheid skriftelik gegee.

Op 5 Januarie is Frik en Sougnet weer laat weet dat hulle Johan se lyk moes kom haal. Hulle het toe sommer self op 14 Januarie deurgery Brits toe. Tot hul skok moes hulle egter hoor dat Johan se liggaam nie opgespoor kon word nie.

Ná ‘n uitgebreide soektog is Frik en Sougnet op 22 Januarie meegedeel dat Johan alreeds op 21 Oktober verlede jaar as een van 13 ongeïdentifiseerde liggame as ‘n armlastige in die Oukasie-begraafplaas buite Brits begrawe is. Kort hierna is ‘n hofbevel uitgereik vir die opgrawe van Johan se oorskot. Dié opgrawing het verlede Donderdag, 20 Februarie, plaasgevind op staatskoste.

“Ons hoop dit is hy, maar ons is nie seker nie,” het ‘n emosioneel uitgeputte Nel-egpaar Maandag tydens ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê. Daar sal weer DNS-toetse gedoen moet word om te bepaal of dit Johan is.

“Die vorige keer is die toetse op 10 September gedoen en ons het eers op 12 Desember die uitslag daarvan ontvang,” sê Frik. Tog blyk dit asof die tweede rondte DNS-toetse heelwat vinniger afgehandel sal word, veral gesien in die lig daarvan dat die Nel-egpaar voortgaan met regsaksie teen die Departement van Gesondheid.

‘n Weldoener wat tot op hede uit haar pad gegaan het om die Nels te help om hul seun se oorskot op te spoor, me. Wilna Liebenberg van Kuruman, was by toe die liggaam oopgemaak is. Daar was geen identifikasie aan die liggaam nie, maar dit was wel die liggaam van iemand wat gebrand het.

“Dit dui op absolute laksheid,” het Frik gesê met verwysing na die feit dat die lyk nie geï-dentifiseer was nie en dit die rede is waarom dit as armlastige begrawe is.

“Ons het dit darem nou al op papier dat hulle [die Departement van Gesondheid] skuld erken,” sê Frik.

Intussen ontvang die Nel-egpaar steeds mediese en sielkundige behandeling. Hulle raak nie meer opgewonde nie.

“Daar is nie regtig woorde wat kan beskryf waardeur ons gaan nie. As dit hy is, gaan ons gemoedsrus kry ... afsluiting. Dan sal die mooi dalk deurkom, want self in die dood is daar ook mooi,” sê Frik. Hulle weet nie wanneer hulle vir seker sal weet of die liggaam wat verlede Donderdag opgegrawe is, wel die van hul seun is nie.

“As dit nie hy is nie, sal al die lyke wat die dag begrawe is, weer opgegrawe moet word,” sê Frik.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines