

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 February 2009
Hul anker in die familie en iemand wat hulle onvoorwaardelik liefgehad het.
So onthou mev. Susaar Schlesinger haar ma, tannie Tienie Botha, wat verlede Donderdag haar lewe verloor het aan die hand van ‘n groep misdadigers in haar huis op Louis Trichardt. Sy was 78 jaar oud.
“Sy was die wonderlikste vrou, moeder, ouma, vriendin vir ons almal en ons vriende. Regtig waar, dit is vir ons ‘n groot verlies dat sy nie meer hier gaan wees vir ons nie,” sê Susaar.
Wyle tannie Tienie se seun, bekende plaaslike prokureur mnr. Pieter Botha, deel die sentiment en onthou sy ma as iemand wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Sy was baie kunstig en het nie net haar eie rokke gemaak nie, maar ook vir ander mense. Sy was ook heel knap met die maak van hoede en ‘n puik blommerangskikker. In die kombuis was sy ‘n bobaas kok en haar heerlike gepak by onthale en gesellighede was alombekend.
Tannie Tienie het in Januarie 1955 saam met haar man, wyle oom Stephen Botha, na die Soutpansberg verhuis. Met hul aankoms was Pieter maar drie jaar oud, terwyl tannie Tienie se oudste dogter, Henrientte, een jaar oud was. Dié tweetjies is in Krugersdorp gebore, met Susaar wat in 1958 in die Elim Hospitaal gebore is. Die jongste van tannie Tienie en oom Stephen se kinders, Stephani, is in die ou kraaminrigting op Louis Trichardt, vandag die Zoutpansberg Privaat Hospitaal, gebore. (Pieter, Susaar en Henriette woon steeds op Louis Trichardt, terwyl Stephani in Australië is).
Met hul aankoms in die Soutpansberg het die Botha-egpaar hulle gevestig op die plaas Harnham op die Bluegumspoortpad. Hulle het gewoon in dieselfde huis wat vandag bekend is as Harnham House Gastehuis.
Oom Stephen was vir 20 jaar ‘n bekende en geliefde geskiedenisonderwyser by Hoërskool Louis Trichardt en tannie Tienie was baie gewild vanweë haar vele talente en persoonlikheid. Ook onder die leerlinge was sy baie geliefd.
“Sy was ‘n mooi vrou met mooi hare. Sy het dit altyd in ‘n bolla gedra en die meisies het met mekaar gestry oor hoe sy dit regkry om haar hare so te dra. In ‘n stadium is van die meisies saam met haar huis toe om te sien hoe word dit gedoen, waarna hulle besluit het dit was wel haar regte hare,” vertel Pieter met ‘n glimlag. Hy onthou ook hoe lief sy ma daarvoor was as die matrieks hier in die vyftiger- en sestigerjare vir die onderwysers by hulle huise kom sing het, sommer deur die nag.
Ná haar kinders grootgeword het, was tannie Tienie ‘n bekende gesig by Ons Tuiste Ouetehuis. Haar gereelde besoeke was ‘n hoogtepunt vir baie van die bejaarde inwoners wie sy emosioneel ondersteun het.
“Sy het haar groepie mense gehad wat sy elke week gaan sien het. As sy nie gekom het nie, het hulle haar sommer gebel,” vertel Pieter.
Tannie Tienie was ook nou betrokke by plaaslike kleuterskole. Met oom Stephen wat by meer as een geleentheid ook burgemeester van Louis Trichardt was, het hy en tannie Tienie talle geleenthede bygewoon as burgemeesterspaar.
Oom Stephen het in 1977 in die ouderdom van 55 jaar afgetree en het onder meer met beeste geboer op grond wat hy agter die Soutpansberg gekoop het. Hulle het self nooit op die plaas gebly nie. Ná oom Stephen se dood in 2001, het tannie Tienie vrou-alleen voortgegaan met die boerdery.
Met hul verbintenis met die skool, jare as burgemeesterspaar en gemeenskapsbetrokkenheid, het die Botha-egpaar wye vriendskappe opgebou wat gestrek het oor die hele Soutpansberg-streek.
‘n Roudiens vir wyle tannie Tienie vind Donderdag, 26 Februarie (vandag) om 11:00 vanuit die AP Kerk op Louis Trichardt plaas. Tannie Tienie word oorleef deur haar vier kinders en tien kleinkinders.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
