

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 February 2009
Sandra Booysen, ‘n inwoner van Louis Trichardt, het hierdie week eerstehands ervaar hoe die munisipaliteit die wet toepas. Die elektrisiteit by haar huis is afgesny, nadat sy haar munisipale heffings teruggehou het. Gelukkig is dit baie vinnig weer aangeskakel.
Sandra is een van die min inwoners wat ‘n volledige rekening vir Januarie ontvang het, met die “agterstallige” heffings, sowel as die nuwe heffing daarop aangedui. Sy het toe by die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) advies gevra. Hulle het haar aangeraai om net vir haar verbruiksitems te betaal, wat sy toe gedoen het.
Op Maandag, 23 Februarie, het die munisipaliteit die krag by haar woning deur die loop van die dag afgeskakel. Sy het toe weer by die SBBV aangeklop, wat onmiddellik ‘n bekende plaaslike prokureur geskakel het. Hy het op sy beurt weer met ‘n advokaat in verbinding getree, wat hom aangeraai het om met ‘n sleutelpersoon by die Stadsraad in verbinding te tree en hulle in kennis te stel dat, indien die kragtoevoer nie so gou moontlik herstel word nie, daar die volgende dag ‘n hofbevel teen die Stadsraad uitgereik sal word om die verantwoordelike persoon in sy/haar per-soonlike kapasiteit vir enige finansiële implikasies aanspreeklik te hou. Die prokureur het met die munisipale bestuurder geskakel en die boodskap oorgedra.
Die gevolg hiervan was dat die kragtoevoer teen 20:00 daardie aand weer aangeskakel is, waaroor Sandra baie bly is. Hieruit, meen die SBBV, kan baie duidelik gesien word dat inwoners wel die reg het om wetlik belasting te weerhou indien die munisipaliteit nie sy verpligtinge nakom wat basiese geriewe betref nie. Om ‘n persoon se krag af te sny sonder genoegsame rede is onwettig en die persoon wat die opdrag gee kan persoonlik daarvoor aanspreeklik gehou word – iets waarvoor die meeste mense taamlik lugtig is.

ADVERTISEMENT:
