

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 March 2009
‘n Onderbreking in telefoondienste het Maandag, 2 Maart sakebedrywighede in Louis Trichardt en omstreke letterlik lamgelê.
Die onderbreking in Telkom-telefoondienste het grootskaalse chaos veroorsaak met banke wat selfs hul deure vir sake gesluit het. Selfoongebruikers het net so gesukkel met netwerke wat kort-kort vir lang periodes buite werking was.
“Ons kon deposito’s aanvaar, maar ons kon dit nie prosesseer nie. Ons moes dat die lyne weer aankom voordat ons dit kon doen. Ons het maar ‘n besluit geneem om ons deure te sluit, want meeste van ons kliënte doen Maandae onttrekkings en ons kon hulle nie help nie. Ons OTM’e was wel so aan en af, want ons het ‘n satteliet-backup op die stelsel,” het mnr. Riaan Boshoff, bestuurder van Eerste Nasionale Bank op Louis Trichardt, gesê.
“Ons was wel oop gewees vir dienste, maar ons kon nie al ons dienste lewer nie... Dit was vir ons ‘n slegte dag,” was me. Elsa van Rensburg, plaaslike bestuurder van ABSA Bank, se kommentaar. Dié bank kon wel deposito’s doen, maar ook nie onttrekkings nie. Hul OTM’e was ook buite werking.
Vir die boerderygemeenskap was die onderbreking eweneens ‘n groot frustrasie en behalwe vir die paar boere wat handradio’s gehad het, was meeste sonder enige vorm van kommunikasie. Talle boere het massiewe finansiële verliese gely, aangesien hulle nie kon skakel met die onderskeie varsproduktemarkte nie.
In ‘n sterk-bewoorde verklaring het TLU SA Noord se voorsitter, mnr. Jan Viljoen, uitgevaar teen Telkom in wat hy bestempel het as growwe nalatigheid en sabotasie aan hulle kant.
“Dit wil voorkom asof ons nie ‘n oorlog in hierdie land nodig het om ons ekonomie te verwoes nie; ons het Telkom,” sê Viljoen. Hy het sy verbasing uitgespreek dat, ten spyte daarvan dat ons reeds in die 21ste eeu is, hierdie tipe verval in infrastruktuur moontlik is.
Buiten vir die geweldige negatiewe impak wat die onderbreking op die sakesektor gehad het, het Jan Alleman ook deurgeloop. OTM’e het nie gewerk nie en derhalwe kon daar nie geld getrek word nie. Betalings per kredietkaart is ook geweier, aangesien dit deur middel van telefoonlyne werk. Kosaankope en die hervulling van voertuie by vulstasies het ontaard in ‘n nagmerrie-ondervinding.
Maar wat presies het verkeerd gegaan? Menige inwoners het laat weet dat, ten spyte van hul oproepe, Telkom geen antwoorde kon verskaf nie. Selfs teen Woensdag was daar nog geen amptelike verklaring van Telkom sigbaar op hul webblad nie.
Die kliëntediens-funksie ten opsigte van foutrapportering op die einste webblad was ook van weinig hulp. Daar is egter wel kort voor druktyd kontak gemaak met Telkom-woordvoerder Mr Pynee Chetty in Pretoria.
Mr Chetty het die onderbreking toegeskryf aan ‘n “rare” toerustingfout, wat ‘n gesamentlike foutiewe werking van harde- en sagteware komponente by een van hul hoof Telkom-verspreidingspunte wat landlyne, ADSL-lyne, sowel as selfoondienste na Louis Trichardt en ander dele van die Limpopo Provinsie reguleer, behels het.
“Telkom het vinnig gereageer en het alles in hul vermoë gedoen om die diens so spoedig moontlik te herstel,” het Chetty in ‘n persverklaring aan die Zoutpansberger gesê. Hulle het selfs so ver gegaan om ‘n span spesialis-tegnici per helikopter vanaf Pretoria na Louis Trichardt te vlieg, kort nadat hulle agtergekom het die stelsel is foutief. Die Telkomspanne het nou saamgewerk met Nokia Siemens Italy, hul toerusting en sagteware verskaffer, in ‘n poging om die diens so vinnig moontlik te herstel. Chetty sê hulle het vasgestel dat die stelsel se databasis beskadig is en dat dit herset moes word. Dit was die hoof oorsaak van die onderbrekings in telefoondienste. Telefoondienste het vanaf 17:00 dieselfde dag plek-plek na normaal teruggekeer, alhoewel Telkom-tegnici nog tot 01:00 op 3 Maart moes werk om die fout ten volle te herstel.
Chetty het namens Telkom om verskoning gevra vir enige ongerief wat deur die fout veroorsaak is. Hy het bygevoeg dat Telkom ‘n interne ondersoek sal loods na die spesifieke faktore wat tot die onderbreking bygedra het.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
