

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 March 2009
Oom Manie Grobler (74) van die plaas Tweefontein buite Louis Trichardt het Saterdagoggend, 28 Februarie ‘n noue ontkoming gehad, toe die trekker waarmee hy besig was of gras te sny, op hom omgekantel het.
Oom Manie was besig om die gras by die plaas-afdraai na Grootklip op die Vivo-pad te sny, aangesien besoekers dit nie meer kon raaksien nie. Hy was egter nie bewus van die dreineringssloot onder deur die teerpad nie, aangesien dit ook toegegroei was.
Skielik het die trekker, ‘n ou Vaaljapie wat hy tweedehands in 1952 gekoop het, se linkerwiele weggeval in die sloot en die trekker het omgekantel.
“Al wat hy kan onthou, is dat hy eerste rat probeer haak het. Dit was ‘n breukdeel van ‘n sekonde,” vertel oom Manie se seun, Barries.
Die trekker het onderstebo in die sloot geval, met oom Manie wat tussen die trekker en die bossiekapper te lande gekom het. Die trekker se wiele het nog gedraai met die bossiekapper se lemme wat hier reg langs hom nog gespin het.
Gelukkig vir oom Manie het ‘n verbygaande motoris gesien wat gebeur het. Hy het dadelik gestop en die trekkertjie se dieseltoevoerpyp afgeruk, aangesien die trekker nie wou afskakel nie.
Wonderbaarlik het oom Manie ongedeerd van die ongeluk weggestap.
“Sy eerste woorde was: As die Here met jou is, sal daar nie eers ‘n haar van jou kop afval nie,” vertel oom Manie se ander seun, Loffie. “Hulle het daardie trekker opgetel en daar was niks, nie eers ‘n gebuigde stuurwiel, verkeerd nie,” voeg hy by.
Behalwe vir bietjie skok, was oom Manie piekfyn. Die trekker is ook op sy wiele gedraai en loop weer. Interessant genoeg, op dié dag presies vyf jaar gelede, het oom Manie sy linkerbeen verloor as gevolg van ‘n motorongeluk.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
