ADVERTISEMENT:

 

Lisensies wat “wegraak” steeds ‘n kopseer

 

News  Date: 06 March 2009

 

Probleme rondom die vyfjaarlikse vernuwing van die kaartrybewyse steek telkens kop uit.

“Om meer as ‘n jaar vir my rybewys te wag, is nie vir my aanvaarbaar nie,” het ‘n inwoner van Louis Trichardt hierdie week gesê.

Mnr. Marius Botha het op 18 Februarie verlede jaar reeds aansoek gedoen vir die vernuwing van sy kaartrybewys. Hy het telkens navraag gedoen, maar daar was net nie enige spoor van sy nuwe bestuurderslisensie nie.

Mnr. Botha het by tye ‘n dag verlof geneem om te probeer vasstel wat van sy lisensie geword het.

“Die amptenaar het in kaste en lêers gesoek en my toe meegedeel dat die hele pak van Februarie verlede jaar weggeraak het,” sê mnr Botha. Hy het verlede week verneem dat hy maar weer van vooraf aansoek moet doen. Dit behels dan die neem van nuwe foto’s, oogtoetse en vingerafdrukke en ‘n herhaling van die hele beslommernis van die proses. Die aansoeker moet dan ook weer ‘n dag verlof by die werk neem om die proses op ‘n weeksdag te kan doen. .

Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het op Dinsdag, 3 Maart, gesê dat in sulke gevalle dit nie die fout van die Makhado Munisipaliteit is nie, maar waarskynlik die Departement in Pretoria. Hy het ontken dat ‘n hele pak aansoeke weggeraak het en gesê dat daar moontlik ‘n geisoleerde geval mag wees.

Mnr. Botha het gesê dat sy swaer ook in Februarie verlede jaar by die Makhado Munisipaliteit aansoek gedoen het vir sy bestuurderslisensie en dat hy ook tot nou nog nie ‘n kaartlisensie ont-vang het nie.

Mnr. Bobodi het die proses verduidelik en gesê dat wanneer ‘n persoon kom vir ‘n aansoek om vernuwing van rybewys, die inligting plaaslik in die rekenaar ingesleutel word en dat die inligting dan in Pretoria ontvang word, waar die lisensie geprosesseer word. Wanneer die lisensie gereed is, word die applikant in kennis gestel.

“As die proses baie lank neem, dan sal die Pretoria ouens gewoonlik vind dat daar iets fout is, byvoorbeeld met die foto’s of vingerafdrukke. Dan adviseer ons die persoon om dit oor te doen en stuur dit weer na Pretoria. Ons het nog nooit die geval gehad dat ‘n hele pak aansoeke verloor is nie,” het Bobodi gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines