

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die optrede van 'n polisiebeampte om 'n verslaggewer openlik met geweld te dreig tydens verlede week se protesoptog, is wyd veroordeel.
Die hoof van die anti-sensorskapafdeling van die Freedom of Expression Institute, mnr. Simon Kimani Ndung'u, het hom skerp uitgespreek teenoor die optrede van die polisiebeampte, asook die senior offisiere se kondonering van die gedrag deur nie op te tree nie. Die Freedom of Expression Institute is genader om in te tree en die saak in belang van die bedryf aan te spreek.
Die insident het Donderdagmiddag plaasgevind tydens 'n protesoptog langs die N1. Frans van der Merwe, 'n vryskut verslaggewer, en Andries van Zyl, nuusredakteur van die Zoutpansberger, was op die toneel om verslag te doen. Hulle het gemerk dat 'n insleepvoertuig begin om voertuie wat langs Stubbsstraat geparkeer was, weg te sleep. Die bestuurder van die insleepvoertuig het by navraag gesê hy doen dit in opdrag van die polisie. Hulle is kort hierna gekonfronteer deur 'n polisiebeampte wat hulle beskuldig het dat hulle inmeng met die polisie se bedrywighede deur opdrag te gee dat die voertuie nie weggesleep mag word nie. Mnr. Van der Merwe het gesê dit is nonsens en dat geen so 'n opdrag gegee is nie.
Toe mnr. Van Zyl die lid van die polisie verder wou gerusstel dat hulle nie inmeng met die gereg nie, het die beampte gesê dat hy sy "uniform sal uittrek en hom (mnr. Van der Merwe) sal skop". Mnr. Van Zyl het sy optrede bevraagteken en gevra of hy besig is met 'n dreigement. Die polisieman het gesê hulle is welkom om dit so te interpreteer. Hy het hierna geweier om homself te identifiseer en selfs daarop geroem dat geen van die ander polisiebeamptes sy naam bekend sal maak nie.
Die twee verslaggewers het hierna Kommissaris Maepa, die areakommissaris vir die streek, van die voorval verwittig en hom gevra om die lid te versoek om homself te identifiseer. Kommissaris Maepa was egter nie bereid om dit te doen nie. Hierna is hulle verwys na Kommissaris Charles van Wyk, die adjunk-provinsiale kommissaris, wat in beheer van die toneel was. Kommissaris Van Wyk het na verskeie versoeke die lid gelas om homself te identifiser. Hy was egter nie bereid om verder hulp te verleen met die klag van intimidasie nie en het gesê hulle is welkom om die saak by die naaste polisiestasie te rapporteer.
'n Klag van intimidasie/aanranding is later by die Makhado polisiestasie aanhangig gemaak.

ADVERTISEMENT:
