

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 March 2009
Inwoners van Louis Trichardt neem met blydskap en tevredenheid kennis van die onlangse gewoel en gewerskaf om paaie in die dorp te herstel. Vir meer as twee weke lank al word daar met doelgerigte ywer gewerk daaraan om veral twee van die strate wat die meeste verkeer dra, te herstel.
In die geval van beide Rissik- en Kroghstraat kon die oppervlakke van die strate nie net weer gelap word soos die afgelope 14 jaar die geval was nie. Die strate moes effektief van voor af gebou word. Dit het behels dat die vorige teerlaag afgestroop moes word en weer met gruis gestabiliseer word, alvorens die nuwe teerlaag daarop aangebring kon word.
Ten spyte daarvan dat die sluiting van een of meer bane op ‘n keer in elk van die strate vir motoriste ongerief en frustrasie meegebring het, is nog geen klagtes in dié verband ontvang nie. Inwoners is maar net te dankbaar dat iets gedoen word, en wel teen so ‘n snelle tempo.
Volgens die subkontrakteur verantwoordelik vir die voorbereiding en konstruksie van die twee paaie, mnr. Danie Pretorius, sal die werk aan dié strate teen die einde van Maart afgehandel wees. Daarna sal nog strate gerehabiliteer word. Dit sluit in Songozwi, Grobler, Kruger en Burger. Songozwi sal gerehabiliteer word vanaf Burgerstraat, tot en met die inligtingskiosk. Pretorius se masjinerie maak korte mette met die teerlaag wat gelê moet word, waarna werkers per hand met harke die lasplekke gelykmaak. Daarna kom die padroller en kompakteer die nuwe oppervlak, wat sowat vyf sentimeter dik gelê word. Die enigste hindernis in hierdie stadium is die andersins welkome reën wat met tussenpose die bedrywighede onderbreek.

ADVERTISEMENT:
