ADVERTISEMENT:

 

Goeie reën bring hoop vir wintermaande

 

News  Date: 13 March 2009

 

Welkome, deurdringende reën het weereens hierdie week begin uitsak, in opvolg van die goeie reën van die eerste twee maande van die jaar.

Die lekker reën in Februarie vanjaar was baie welkom, veral nadat verlede jaar die droogste Februarie in 32 jaar opgelewer het of moontlik in die geskiedenis. Hierdie gegewens is verkry van Stevens Lumber-Shefeera, wat al sedert 1977 reënvalstatistieke byhou. Verlede jaar in Februarie is daar slegs 47.1mm gemeet, die laagste vir Februarie in die totale reënvalregister. Hierdie jaar is daar in Februarie 329.8mm gemeet. Die mees uitsonderlike Februariemaand was in 2000, met die groot vloede, toe daar 1785mm uitgesak het.

Januarie se goeie reënval van 368mm by Shefeera was ook die beste vir ‘n Januariemaand die afgelope nege jaar.

Die reënseisoen word geneem van Oktober tot September die volgende jaar. Vanaf Oktober verlede jaar tot Februarie vanjaar, is daar al meer reën gemeet as in die hele voorafgaande Oktober tot September periode (2007/8). In Oktober verlede jaar het daar by Shefeera 37mm geval, in November 111mm, in Desember 202mm, in Januarie vanjaar 268mm en in Februarie 329mm.

Op Levubu het die laaste goeie reën in Februarie goeie vooruitsigte vir die winter meegebring.

“In die Levubu-gebied het ons relatief min reën gehad. Dit was voldoende om die gewasse en die omgewing aan die gang te hou, maar ons het nie voldoende gekry vir die ondergrond nie. Maar met die laaste goeie reën wat ons gekry het, is ons baie dankbaar dat dit ingedring het en dat ons nou ‘n baie gemaklike wintertydperk ingaan,” het mnr. Dries Joubert, Voorsitter: Kommunikasie van die TLU SA Noord. gesê.

Met die weistreke agter die Soutpansberg gaan dit ook goed.

“Mens was bekommerd gewees: die reën het gekom en gegaan, gekom en gegaan, maar met die laaste reën het dit regtig gemaak dat ons kan sê dat ons daar ook ‘n gemaklike winterseisoen ingaan,” sê Joubert.

In Louis Trichardt is daar 19mm gemeet vir Oktober verlede jaar, 133mm in November, 92mm in Desember, 328mm in Januarie en 155mm in Februarie. Die eerste 10 dae in Maart het sowat 86mm reën opgelewer. Hierdie reënvalsyfers is in die nuwe uitbreiding van die dorp gemeet by mnr. Willie Agenbacht.

Intussen het die Albasinidam met amper ‘n volle persentasiepunt gestyg en staan hierdie week op net oor die 28%. Die Vondo- en Nandonidamme loop oor, terwyl die Luphephedam met meer as drie persentasiepunte gestyg het tot net meer as 70%, nadat daar verlede Maandag 101mm reën aangeteken is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines