ADVERTISEMENT:

 

Die rekening van ‘n inwoner van Tshikota wat die Makhado Munisipaliteit vir ‘n geruime tyd al meer as R26 000 skuld vir dienste gelewer. Tans beloop die rekening amper R28 000.

Wanbetalers word wel vasgevat, meen Raad

 

News  Date: 13 March 2009

 

Teen hierdie tyd weet almal in die dorp reeds dat dienslewering in Louis Trichardt en omliggende dele ‘n groot twispunt is tussen ontevrede inwoners en die Makhado Munisipaliteit.

Dit is juis hierdie swak dienslewering wat aanleiding gegee het tot die stigting van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) en die dispuut wat in Augustus verlede jaar verklaar is tussen die SBBV en die munisipaliteit. Dit blyk egter dat dienslewering ‘n relatiewe begrip is, afhangende van waar mens bly.

Zoutpansberger is in besit van ‘n rekening vir munisipale dienste gelewer aan ‘n inwoner van Tshikota wat vir meer as 120 dae al ten minste R26 600 agterstallig is. Saam met die rekening vir November en Desember verlede jaar, asook Januarie en Februarie vanjaar, beloop die rekening tans R27 980. Die gemiddelde maandelikse verbruik by die woning is ongeveer R340. Dit inaggenome, moet hierdie rekening al meer as ses jaar uitstaande wees. Die feit dat die verbruik vir Februarie R345,14 beloop, beteken dat daar tot op 14 Februarie, toe die meters gelees is, nog dienste gelewer is by daardie adres, ten spyte van die geweldige uit-staande bedrag.

By navraag het die woordvoerder van die munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, soos volg gereageer.

In antwoord op die vraag of die inwoner se dienste opgeskort is, was die antwoord dat die inwoner tans geen dienste soos water en elektrisiteit ontvang nie. Die tweede vraag, naamlik wanneer die dienste opgeskort is al dan nie, is geen antwoord ontvang nie en dit is as nie van toepassing beskou nie. Derdens is daar navraag gedoen oor wat die munisipaliteit tans doen om die agterstallige gelde in te vorder, waarop Bobodi geantwoord het dat alle kredietkontrole en skuldinvorderingsmetodes aangewend word om die geld te verhaal. Hy kon ook nie ‘n verduideliking gee hoe so ‘n situasie ontstaan nie, “aangesien elke sodanige situasie uniek is aan die inwoner.” Hy kon ook nie ‘n spesifieke aanduiding gee van hoeveel sodanige rekeninge daar is wat uitstaande is nie.

Laastens is dit aan Bobodi gestel dat som-mige inwoners voel dat die munisipaliteit net teenoor die sogenaamde R293 gebiede so toegeeflik is ten opsigte vanwanbetaling vir dienste en nie teenoor ander gebiede nie. Bobodi het dit kategories ontken.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines