

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 March 2009
Dit wil tog lyk of die cholera-wolk wat oor die Limpopo provinsie hang ‘n silwer randjie gekry het.
Na talle berigte oor die kommerwekkende toename in sterftes en nuwe gevalle van cholera wat aangemeld word, wil dit blyk of die epidemie besig is om te kwyn.
Volgens amptelike syfers van die Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling is daar tot op hede ‘n totaal van 5 399 gevalle van cholera in Limpopo aangemeld, met 25 sterfgevalle sedert die uitbreking van cholera in November verlede jaar. Dié syfers is egter effens teenstrydig met die van die Departement Waterwese en Bosbou, wie se statistieke toon dat daar altesaam 5 293 gevalle aangemeld is, met 24 sterfgevalle.
Uit gesprekke met verskeie plaaslike medici is dit duidelik dat die voorkoms van cholera besig is om beduidend af te neem en dat inwoners gerus kan wees dat daar nie tans ‘n cholera-gevaar op Louis Trichardt is nie. Dokters en kenners is dit egter eens dat bogenoemde syfers nie die ware situasie weerspieël nie.
‘n Pasiënt wat by ‘n hospitaal aanmeld met simptome soortgelyk aan dié van cholera word dadelik vir cholera behandel. Daar word nie die kanse gevat om eers te wag vir labratoriumtoetse om te bevestig of dit wel cholera is nie. Baie pasiënte word dus vir cholera behandel, waar hulle dikwels slegs ‘n ernstige maagaandoening het. Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Sommige mense kan cholera onder lede hê en dit nie eens agterkom nie, aangesien sommige pasiënt slegs geringe maagpyn en diarree ervaar.
Die provinsiale woordvoerder van die Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling, mnr. Phuti Seloba, het hierdie week die afname in cholera-gevalle bevestig.
Hy het egter bygevoeg dat daar wel verlede Woensdag (11de) ‘n 33-jarige vrou van Tshilwavhusiku weens cholera gesterf het by Louis Trichardt Gedenk Hospitaal. Volgens sy syfers is daar verlede week slegs 13 nuwe gevalle aangemeld.
Die hoofdirekteur van die Departement Waterwese en Bosbou in Limpopo, mnr. Alson Matukane, het ten spyte van die afname inwoners weereens vermaan om nie water uit riviere en damme te drink nie. Hy sê ‘n veiliger opsie is om kraanwater te gebruik.
“As mense verplig is om uit riviere water te gebruik, moet hulle baie versigtig wees en dit eers kook.” Hy het bygevoeg dat mense altyd higiënies moet leef, hul hande was nadat hulle die toilet gebruik het en altyd hulle kos moet afspoel in veilige water voordat hulle dit eet.

ADVERTISEMENT:
