ADVERTISEMENT:

 

Die agt-maande-oue Carla Erasmus is Maandag oorlede.

Illona en Phil se jong ligstraaltjie sterf

 

News  Date: 20 March 2009

 

Die jongste kind van Phil en Illona Erasmus, twee oud-inwoners van Louis Trichardt, is Maandag in ‘n Kaapstadse hospitaal oorlede, ‘n dag na ‘n operasie om ‘n hartklepdefek te herstel.

Phil en Illona is bekende gesigte in die Soutpansberg-omgewing. Hulle was op Louis Trichartdt woonagtig tot in 2001, toe hulle na Pretoria verhuis het. Vanaf 2003 was hulle in die Midde-Ooste woonagtig waar Phil as ingenieur werksaam was. Hierna het die Erasmus-familie vir twee jaar in Kaapstad gewoon, totdat Phil in Januarie vanjaar ‘n werk aanvaar het in Doha, Qatar.

Die gesin het twee seuns, André (10) en Janno (8). Verlede jaar is hulle verras met ‘n laatlammetjie en ‘n dogtertjie, Carla, is op 23 Julie in Kaapstad gebore. Carla het egter van geboorte af gesukkel met haar gesondheid. Vier weke nadat die familie hulle in Doha gevestig het, is die jong dogtertjie gediagnoseer met ‘n baie rare hartkondisie. Haar hartkleppie was heeltemal misvorm.

Die kindjie was tot verlede Donderdag in Doha in ‘n hospitaal voordat sy Kaapstad toe gevlieg is sodat ‘n wêreldbekende pediatriese hartchirurg op haar kon opereer. Die hartoperasie kon nie in Doha uitgevoer word nie aangesien hulle nie die ondervinding het om so ‘n delikate operasie te doen nie.

Volgens Illona was Sondag se operasie ‘n sukses, maar ongelukkig was Carla se longetjies reeds so beskadig dat sy slegs nog een dag kon oorleef. Sy was toe reeds vir drie dae gekoppel aan ‘n ventilator.

“Carla het soveel mense se lewens aangeraak. Dwarsoor die wereld is daar vir haar gebid. Ons was stom oor die hoeveelheid mense wat sy op hul kniee gedwing het. Sy was ´n ligstraaltjie wat ontsettend deur haar familie en vriende gemis gaan word,” sê Illona.

Klein Carla se oupa is Jan Corver van Louis Trichardt en haar ander oupa en ouma is Andre en Ria Erasmus van Soekmekaar. “Sy is vir amper agt maande aan ons geleen en ons sê dankie aan die Here vir elke oomblik daarvan,” sê die familie.

Haar roudiens vind eerskomende Maandag om 11:00 plaas by die APK kerk in Louis Trichardt.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines