

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 March 2009
Daar was geen tekort aan glimlagte by 515 Eskader van LMB Makhado se jaarlikse kamp vir verstandelike gestremde kinders by Lianga Lodge vanaf 9 tot 13 Maart nie.
Gedurende die kamp het die kinders ‘n kans gekry om driloefeninge en “PT” te doen; hulle het orals heen gedraf en het selfs party oggende amper twee-en-‘n-half kilometer ver in die veld gaan hardloop. Hulle het ook geleer van wapens en om natuurgeluide uit te ken. Boonop is hulle ingelig oor brandveiligheid en natuurbewaring. Die groot hoogtepunt van die kamp was egter toe 19 Eskader die kinders onthaal het en almal op ‘n helikoptervlug geneem het in ‘n Oryx-helikopter. Hier en daar moes daar moed ingepraat word, maar toe daar na die tyd gevra is wie weer sou wou vlieg, was daar net ‘n see van hande en bly gesiggies te sien; almal wou wéér vlieg.
Die kamp is oudergewoonte afgesluit met die hou van ‘n parade waar daar sertifikate aan die leerlinge uitgedeel is. Kinders wat uitsonderlike gepresteer het gedurende die kamp, het spesiale sertifikate ontvang.
Die kamp het al tradisie geword by LMB Makhado en poog om aan hierdie kinders ‘n ervaring van weermaglewe te gee wat in hul normale omstandighede nie moontlik sou gewees het nie. Hierdie jaar is die kamp se 22ste bestaansjaar gevier.
Die kamp het in 1987 begin by die Pietersburg Lugmagbasis met net drie kinders. Vandag word die kamp bygewoon deur seuns en meisies van verskillende rasse. Altesaam 82 leerlinge van nege verskillende skole vir verstandelik gestremde kinders het hierdie jaar se kamp bygewoon. Buiten vir die avontuur wat die kinders ervaar, het baie van die skole na afloop van die kamp positiewe verandering in die kinders opgemerk. Waar party van die kinders voor die tyd glad nie gepraat het nie, gesels hulle nou land en sand na afloop van die kamp.
515 Eskader het hul dank uitgespreek teenoor almal wat die kamp moontlik gemaak het, insluitend die plaaslike Rotariërs (Distrik 9250), Vriende van die Lugmagbasis Makhado, Wikus van Tiny Bubbles, Spar, Pick ‘n Pay, Lianga Lodge, Coca-Cola Fortune (Louis Trichardt), Limpopo Melkery, Leach Printers, Du Toits Bande, Dinnermates, AMG, 19 Eskader en Tafelrondes 170 (Phalaborwa), 66 (Soutpansberg), 151 (Pretoria) en 201 (Pretoria).

ADVERTISEMENT:
