ADVERTISEMENT:

 

Bruin water pla, maar drinkbaar sê Raad

 

News  Date: 27 March 2009

 

Inwoners van Louis Trichardt moes die afgelope naweek weer mooi dink of hulle dit wou waag om die water wat aan huishoudings verskaf word, te drink. Dit nadat genoemde water so ‘n modderige kleur aangeneem het.

Volgens die munisipaliteit is die water egter heel drinkbaar. Of inwoners hiermee saamstem, is egter ‘n perd van ‘n ander kleur.

Mnr David Mukosi, wat in bevel is van die waterwerke-afdeling by die munisipaliteit, het hierdie week aangedui dat die kleur van die water te wyte is aan sediment wat in die toevoerpype versamel wanneer die toevoer onderbreek word. Volgens Mukosi is dit nie grond of modder nie, maar kalksediment wat teenwoordig is as gevolg van die suiweringsproses.

Mukosi het die rede vir die akkumulasie verduidelik deur te sê dat daar drie pompe is wat water na die dorp pomp vanaf die suiweringswerke – ‘n grote en twee kleineres. Die gesamentlike kapasiteit van die twee kleineres is dieselfde as dié van die groot pomp. Die twee kleineres word saam ingespan en afgewissel met die grote, sodat die pompproses onverpoosd kan plaasvind. Terselfdertyd word die ander sisteem in reserwe gehou om op terug te val indien iets met die huidige sisteem foutgaan. Wanneer daar egter oorgeskakel word van die een na die twee, of andersom, het kalk-sediment intussen in die pype neerslag gevind en dié sediment moet dan eers uit die sisteem gespoel word. Dis hierdie sediment wat, volgens Mukosi, saam met die water by die kraan uitkom en totaal drinkbaar is.

Wat egter nie duidelik is nie, is hoekom daar so baie sediment is en hoekom dit die hele naweek, en in sommige gevalle selfs langer, geneem het vir die sedi-ment om uit die sisteem te spoel.

Volgens Mukosi was hulle nie bewus van die bruin water nie en is hulle eers Maandagoggend daarvan in kennis gestel. Hy het die hoop uitgespreek dat die water teen die einde van die week weer heeltemal skoon sal wees.

Intussen het die kontrakteur wat instandhouding doen op die pompe vir die munisipaliteit, mnr. Henk de Swardt van Belta Services, aangedui dat sommige van die komponente wat vroeg in September verlede jaar beskadig en gesteel is tydens die verwoestende werk van vandale by die hoofpompstasie by die Albasinidam, nou eers vervang kan word. Die rede vir die oponthoud kon nie bepaal word nie. Intussen gaan Belta Services voort met deurlopende instandhouding van die pompstasies.

“Dit is ‘n langdurige proses en ons moet in gedagte hou dat die wiele van die burokrasie stadig draai. Ons bly egter positief dat dinge wel sal beter gaan,” het De Swardt gesê.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines