

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 March 2009
Met die algemene verkiesing om die draai op 22 April vanjaar, kry Jan Publiek blykbaar al hoe meer oorspronklike maniere om hul misnoeë ten opsigte van swak dienslewering te kenne te gee.
‘n Persoon, wat duidelik genoeg gehad het van die slaggate in Louis Trichardt se strate, het Dinsdagoggend ‘n ANC-plakkaat met die boodskap “Working together we can do more” gevat en hom tussen ‘n klomp slaggate in Elandstraat gaan inslaan. Menige inwoner wat daar verbygery het, het sekerlik die ironie van die boodskap in kontras met die verval van die dorp se strate raakgesien.
Die Zoutpansberger is van die plakkaat in kennis gestel, maar met die koerant se aankoms daar net na 08:00 was die plakkaat reeds verwyder, vermoedelik deur munisipale beamptes. Gelukkig het ‘n verbygaande motoris ‘n foto geneem. ‘n Omstander het ten opsigte van die vinnige verwydering van die plakkaat opgemerk “Ai, as dienslewering ook so vinnig kon gewees het.”
Tog moet inwoners gewaarsku wees dat die verwydering van verkiesingsplakkate ‘n ernstige kriminele oortreding is. Teen Dinsdagmiddag kon die polisie op Louis Trichardt egter nog nie bevestig of daar al ‘n klag in dié verband gelê is nie. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, was teen gistermiddag ook nog nie bewus van die voorval nie.
Me. Nkaro Mateta, woordvoerder vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in Limpopo, het by navraag gesê dat hierdie optrede teen die OVK se gedragskode is en gewaarsku dat sou, ‘n persoon wel gevang word waar hy of sy verkiesingsplakkate verwyder of beskadig, hulle onmiddellik kriminele klagte in die gesig kan staar. Die persoon kan ondermeer aangekla word van opsetlike saakbeskadiging en diefstal.

ADVERTISEMENT:
