ADVERTISEMENT:

 

Wat sê Jan Publiek oor belastingweerhouding?

 

News  Date: 27 March 2009

 

Wat dink inwoners van Louis Trichardt van die weerhouding van belasting aan die munisipaliteit?

Teen 24 Maart het sowat 400 inwoners geregistreer by die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging en die proses aan die gang gesit om hulle munisipale rekenings by die Van Heerden en Rudolph prokureurskantoor te betaal. Dit kom daarop neer dat inwoners die volle rekening inbetaal by die betrokke kantoor wat dan sekere gedeeltes aan die munisipaliteit oorbetaal en ander ge-deeltes in ‘n trust hou.

Zoutpansberger het ‘n aantal inwoners se opinies gevra oor dienslewering en belastingweerhouding.

Me. Anita Wolmarans het gesê dat sy geregistreer is by die belastingbetalers en haar rekening by die trust inbetaal. “Mens kan nie net roekeloos aanhou betaal aan die munisipaliteit nie. By die SBBV is daar kundiges wat bereid is om uit te vind as hulle iets nie weet nie.”

Die behulpsaamheid by die kantoor waar die rekeninge inbetaal word, het mnr. Louis Slater getref. “Hulle is so vriendelik daar waar ’n mens inbetaal. Dis lekker om nie nors gesigte te sien wanneer jy betaal nie.”

Sommige inwoners het nog nie gehoor van die belastingweerhouding nie of het eers onlangs daarvan gehoor. Mnr. Takalani Siphuma van die nuwe uitbreiding het gesê dat die dienslewering regtig swak is. “Ek kan die toestand van die paaie sien, ten spyte daarvan dat ons belasting betaal, en dit is nie verstaanbaar nie. Die waterprobleme is baie erg en die naweek was die water baie modderig.” Wat belastingweerhouding betref, het mnr Siphuma die vorige week vir die eerste keer daarvan gehoor. “Ek dink dat dit ‘n goeie idée is, maar ek het nog nie besluit wat ek gaan doen nie. ‘n Mens moet dit oorweeg en dan besluit wat om te doen.”

Mnr. Greg Stewart is besig om stappe te neem vir belastingweer¬houding wat sy privaat eiendom aanbetref. “Belastingweerhouding is ‘n goeie ding. Dis die enigste manier om goeie dienste te kry. Ons kan nie toelaat dat die dienstelewering en infrastruktuur agteruitgaan met die frustrasies wat daarmee saamgaan nie. Mense moet nog die besluit neem.”

Nog iemand wat besig is met die besluit, is mnr. Yakoob Kalla van Eltivillas. “Ek dink belastingweerhouding is ‘n goeie idee. Ek was by die vergadering en oorweeg om dit te doen. Ek het net eers met my pa gepraat en hy sê dat ons moet voortgaan.” Mnr Kalla sê dat die effek van die belastingweerhouding sal wees dat die munisipaliteit na die mense sal begin luister en dat die dorp weer sal vooruitgaan.

Ander is nie so seker van die munisipaliteit se reaksie nie.

“Dienslewering? Daar is nie so iets nie,” het me. Andel Greyling, wat by die belastingbetalersvereniging geregistreer is, geantwoord. “Belastingweerhouding is ‘n goeie ding as dit gaan help. Die vraag is of dit gaan help en of dit die munisipaliteit gaan regruk of nie. Ek wonder of enigiets die munisipaliteit gaan regruk. Wat moet ‘n mens nog doen om hulle wakker te maak?”

Pastoor Chris Mattheus sê dat ‘n mens jou stem mag laat hoor en iets doen, maar dat die gesindheid van jou hart van die grootste belang is. “As iets verkeerd is, bly dit verkeerd. As ‘n mens betaal vir dienste, dan moet dit gelewer word. Ons gesindheid is dat ons die munisipale owerhede eer en dien. Ons hartsgesindheid moet wees: Ons eer julle en julle is verkies, maar ons wil graag hê dat dinge reg moet ver-loop.”

Mnr. Louis Linde sê dat hy nie positief kan wees oor die huidige dienslewering nie. “Dit voel vir my of daar nie lank genoeg vooruit aandag gegee word aan beplanning nie. Wanneer ‘n mens sien hoe dienslewering agteruitgaan, dan het ‘n mens ‘n vraag oor die kundigheid van die persoon wat die dienste moet verrig. Belastingweerhouding is ‘n laaste alternatief as daar nie aandag aan bogenoemde gegee word nie. Dit word gedoen sodat die betrokke owerhede vin-niger aan ‘n oplossing aandag gee.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines