ADVERTISEMENT:

 

Hierdie rekening is in Maart deur ‘n besigheid ontvang. Die rekening het van die normale R3 400 gespring na R11 800 as gevolg van die terugwerkende eiendomsbelasting wat deur ‘n prokureur beskryf is as “ongehoord in die reg”.

Belastingskok dompel talle in skuldspiraal

 

News  Date: 03 April 2009

 

Maartmaand se munisipale rekeninge het vir party belastingbetalers op Louis Trichardt as ‘n groot skok gekom.

Sommige ondernemings en individue het in Maart hul eerste amptelike kennismaking gehad met die nuwe waardasie van hul eiendom en die nuwe eiendomsbelasting wat terugwerkend in een bedrag gehef word. Twee besighede, een in die Ackermansentrum en een in Joubertstraat, se munisipale rekeninge het albei gespring na meer as R11 000 – ‘n skielike R7 000+ ekstra wat vir Maartmaand opgedok moet word.

Die gewone huiseienaar met ‘n eiendomswaarde van R450 000 moet ongeveer R1800 op een slag betaal vir die terugwerkende heffing wat vir die vorige agt maande nie gehef is nie.

Volgens me. Gwen Loots, prinsipaal van Realty Elk in Louis Trichardt, verkoop ‘n gemiddelde huis met drie slaapkamers en twee badkamers nou vir tussen R750 000 en R800 000. Die eienaar met ‘n huis wat R800 000 werd is, sal hierdie maand ‘n ekstra R3 200 moet bymekaar maak om die eiendomsbelasting te betaal. Mense met huise van R1,5 miljoen kyk in die omgewing van ‘n ekstra R6 000 hierdie maand aan munisipale eiendomsbelasting.

Sover bekend is nie een eienaar van eiendom op Louis Trichardt skriftelik ingelig dat hulle ewe skielik ‘n groot bedrag gaan skuld nie en is baie huishoudings nou skielik in ‘n skuldspiraal gedompel.

Inwoners voel dat dit onbillik van die Makhado Munisipaliteit is om belasting terugwerkend te hef per debietnota, sonder om behoorlik kennis te gee.

“Dit is ongehoord in die reg om regte terugwerkend te ontneem,” was die mening van bekende plaaslike prokureur mnr. André Naudé.

Nog ‘n totaal onbillike praktyk is die hele kwessie rondom die waardasie van die eiendomme.

“Dit is my eerste kennisgewing van die waardasie van my eiendom en ek het bewyse waarom ek nie met die waardasie saamstem nie,” het een sakeman gesê. Hy het dit as onbillik beskou van die munisipaliteit om van mense te verwag om “in ‘n kantoortjie te gaan soek” na die waardasie van hul eiendom. ‘n Billike praktyk sou wees om elke eienaar persoonlik per brief te laat weet wat die waarde van sy eiendom is, wat die heffing is wat hy gaan betaal en wanneer dit geïmplementeer gaan word.

Dit is glad nie ‘n vergesogte idee nie. Die Ekurhuleni Munisipaliteit aan die Oosrand het vir elke eienaar persoonlik ‘n brief gestuur met al die relevante inligting uitgespel, aldus hul webwerf.

Naudé het saamgestem dat dit ‘n onbillike, administratiewelik- onregverdige en nie-konsulterende praktyk van die munisipaliteit is om mense nie per spesiale brief te laat weet wat hul waardasie is nie. Dit is ook ‘n onbillike praktyk dat die eiendomsbelasting gehef is, terwyl die dispuut oor die waardasie nie afgehandel is nie.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging het verlede jaar in Augustus ‘n dispuut teen die Makhado Munisipaliteit verklaar en die eiendomswaardasierol vorm deel van die dis-puut. Lede van die SBBV het begin om hul munisipale rekenings in ‘n trustrekening vir dié doel in te betaal. Die trust betaal alle gelde aan die munisipaliteit oor behalwe die terugwerkende eindomsheffing, die basiese eindomsheffing, die basiese water, riool en elektrisiteitsheffing. Dit word teruggehou totdat die dispuut afgehandel is.

Sommige huiseienaars, veral in die nuwe uitbreiding, het nog glad nie die rekeninge met die waardasie en die terugwerkende belasting ontvang nie.

Geen vrae rondom die munisipale rekeninge is hierdie week deur die Makhado Munisipaliteit beantwoord nie. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het per SMS laat weet dat hy besig is om inligting in te samel.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines