

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 April 2009
Die saak teen die drie boere van die Alldays-omgewing wat van poging tot moord aangekla word, het Vrydag, 27 Maart voor die landdroshof op Louis Trichardt gedien.
Die saak teen Robert Scott Gallo, Louis Nel en Willem Jacobus Stefanus van Schalkwyk, spruit uit ‘n voorval verlede jaar toe die klaer in die saak met sy voertuig op ‘n plaaspad, wat verby die drie beskuldigdes se plase strek, gery het. Die klaer beweer dat die drie beskuldigdes sy voertuig gestamp het, waarna hy stilgehou het, uit sy voertuig gespring het en die veld in gevlug het. Hy beweer hy het toe gehoor hoe geweerskote in sy rigting afgevuur word.
Gallo, Nel en Van Schalkwyk is na die voorval deur die polisie gearresteer op klagte van poging tot moord. Hulle is op borg vrygelaat.
Die saak teen die drie is Vrydag uitgestel tot 16 April. Die staatsaanklaer het die saak na die senior publieke staatsaanklaer verwys vir beslissing of daar voortgegaan sal word om die mans te vervolg. Die senior staatsaanklaer het toe beslis dat die polisie verdere ondersoek moet instel om te bepaal of die skote wel in die rigting van die aanklaer afgevuur is en of dit net waarskuwingskote was. Eers as die polisie se ondersoek afgehandel is, sal die staatsaanklaer kan besluit of die saak teen die drie terug getrek gaan word en of hulle vervolg sal word.

ADVERTISEMENT:
