ADVERTISEMENT:

 

Senior omgewingsbeampte gevonnis oor diefstalle

 

News  Date: 03 April 2009

 

‘n Senior beampte van die Departement Omgewingsake en Toerisme in Polokwane, L. J. Sebiloane, is op 23 Maart in die landdroshof op Louis Trichardt skuldig bevind op vier aanklagte van diefstal en gevonnis tot ‘n boete van R4 500 of vier jaar gevangenisstraf.

Sebiloane het gedurende 2007/8 by vier geleenthede altesaam R9 000 se skulderkenning boetes geëis van hoofsaaklik boere, omdat hulle na bewering die LEMA Wet (Limpopo Environmental Management Act) oortree het.

Een van die diefstal klagtes spruit uit ‘n voorval gedurende Februarie 2008 toe Sebiloane ‘n R3 000 skulderkenningsboete van mnr. M. N. A. Atieh geëis het, omdat mnr. Atieh na bewering nie oor die nodige permitte beskik het vir sy broodbome wat hy van sy plaas naby Thohoyandou na Dubai wou uitvoer nie. Sebiloane het die boete ontvang en belowe om die kwitansie aan Atieh deur te faks. Mnr. Atieh het egter nie die kwitansie ontvang nie. Eers nadat Atieh ‘n klag gelê het by die polisie, het hy ‘n kwitansie ontvang vanaf Sebiloane. Ondersoekbeamptes het egter gevind dat die reeksnommer wat op die kwitansie verskyn, behoort aan ‘n kwitansieboek wat in Petrusburg (Vrystaat) uitgereik is gedurende Junie 2004 en dat die saaknommer verwys na ‘n diefstal saak by ‘n besigheid.

In nog ‘n ander voorval gedurende Oktober 2008 het Sebiloane twee boetes aan mnr. J. J. Cronjé van Limpopo Safaris naby Musina uitgereik, nadat hy na bewering ‘n wildekat en bobbejaan geskiet het sonder die nodige toestemming of permitte.

By nadere ondersoek van Sebiloane se boeke, is daar bevind dat daar twee boetes van R500 elk uitgereik is aan mnr. Cronjé. Mnr. Cronjé het egter bewyse gelewer, in die vorm van korrespondensie, waarin Sebiloane erken dat hy R6 000 kontant van mnr. Cronjé ontvang het.

Uit die polisie ondersoek wat hierop gevolg het, het dit geblyk dat Sebiloane die twee R500 boetes ook nie oorbetaal het aan die betrokke instansie(s) nie.

Mnr. Sebiloane het na afloop van die hofsaak vrywilliglik uit sy pos bedank. Sebiloane se vonnis is vir ‘n periode van drie jaar opgeskort, op voorwaarde dat hy hom in hierdie tydperk nie skuldig maak aan ‘n soortgelyke oortreding nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines