ADVERTISEMENT:

 

Lizette Joubert, een van die vlieëniers wat gebruik maak van die munisipale vliegveld, staan tussen die hoë gras wat besig is om die aanloopbaan toe te groei.

Aanloopbaan maak plek vir grasvlaktes

 

News  Date: 03 April 2009

 

Vlieëniers en passasiers wat gebruik maak van die munisipale vliegveld buite Louis Trichardt is al raadop met die lang grasse wat feitlik die hele aanloopbaan nou al toegegroei het.

Mnr. André Prinsloo, ‘n plaaslike sakeman wat sy vliegtuig by die vliegveld stoor en gereeld vlieg, is een van die ongelukkiges. Uit pure moedeloosheid het hy toe maar van sy werkers gevat om die gras aan een kant van die aanloopbaan te sny. Volgens hom het die munisipale werkers ‘n paar maande gelede gekom om die gras te sny, maar toe die gesnyde gras sommer net daar op die aanloopbaan se landingsligte gelos.

“Dit het nie regtig baie gehelp nie, want toe kon mens nie in die aand daar land nie.”

Die vlieënier in diens van mnr. Prinsloo, mev. Lizette Joubert, het bygevoeg “dit is moeilik vir mense wat nie die area ken nie om hulle vliegtuig daar te land; mens kan glad nie in die aand die aanloopbaan sien nie.

“Ek moet maar raai as ek inkom om te land. As die liggies (op die aanloopbaan) nie stukkend is nie, groei die gras hulle toe. Boonop is die windkous aan flarde en werk sy lig ook nie meer nie. Ek moet dus maar raai uit watter rigting die wind waai. Gewoonlik het ons ‘n oostewind. Ek hoop en bid maar net altyd dat daar nie ‘n westewind opsteek nie. Dit is ‘n groot risiko wat ons loop om daar te land.”

Lizette se grootse vrees is egter dat iemand ‘n fout gaan maak en verkeerd land.

“Wie gaan die verantwoordelikheid neem as daar iets skeef loop? Die vlieënier of die munisipaliteit?”

Mnr. Louis Bobodi, Makhado Munisipaliteit se woordvoerder, het aangevoer dat die gras by die vliegveld nie gesny kon word nie, omdat die munisipaliteit se masjinerie buite werking was. Die gras sal egter nou so “gou as Woensdag” hierdie week gesny word.

Wat die geskeurde windkous betref, het hy gesê dat die saak onder die “relevante departement” se aandag gebring is. “Wat die geboue op die perseel en die pad wat na die vliegveld loop betref, sal dit so spoedig moontlik herstel word as ‘n saak van uiterste noodsaaklikheid,” het Bobodi gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines