

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 April 2009
Na ‘n lang stilte is Louis Trichardt se pragtige Groengordel-gebied weer in die kalklig.
Tydens ‘n vergadering op 31 Maart het “groen” voorstanders gekyk na die voorgestelde ontwikkeling met hotel en konferensiesentrum, motorhandelaars en hardewarewinkels en moontlik in hul gedagtes gesien hoe rooi duikertjies, rare voëls en inheemse bome die wyk sal moet neem voor stootskrapers en profytmakers.
Die omgewing in die groengordel (Uitbreiding 9) is beskryf as ‘n sensitiewe, ekologiese sisteem, rivierryk en vol berge, koppies en panne met unieke fauna en flora, asook ‘n deel met geskiedkundige en argeologiese waarde.
Die vergadering verlede week by die skousaal is die eerste openbare deelname vergadering van die voorgestelde ontwikkeling, genaamd Shongozwi Retail Park & Hotel, en het ook gehandel oor die vereiste omgewingsimpakstudie. Omgewingskonsultant mnr. Leander Grobler van Inkoleko Konsultante in Polokwane het die voorsitterstoel ingeneem en me. Charlotte van der Merwe van Kamekho Stadsbeplanners was ook teenwoordig. Die applikant wat die ontwikkeling wil doen, is East and West Investments (Pty) Ltd. wat onder meer verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die Cycad Estate, die Cycad-winkelkompleks en die Moolman-geboue in Polokwane .
Hulle voorstel sluit in 146 erwe van ongeveer 600m2, ‘n hotel en konferensiesentrum, ‘n winkelkompleks, motor vertoonlokale en werkswinkels, ‘n hardeware kompleks, ander fasiliteite van gemeenskapsbelang en landskapuitleg in die openbare oop spasie ontwikkeling. In die ontwikkelingsplan is die residensiële erwe nie aangetoon nie.
Die doel van die ontwikkeling is aangedui deur die konsultant. Dit sluit in om ‘n spilpunt vir kommersiële aktiwiteite te vorm wat ook Musina, Thohoyandou en ander omliggende areas kan bedien. Dit kan ook dien as oornagfasiliteite vir jagters en toeriste na ander lande.
Na afloop van die vergadering het me. Anneke Stroebel, wat naby aan die beoogde ontwikkeling woon, gesê dat die navorsers of ontwikkelaars nie ‘n benul het van wat in die dorp nodig is nie. Stroebel sou graag plaaslike navorsers as deel van die span wou gesien het.
Sommige besware het gehandel rondom die manier waarop die kontrakte toegeken is, die besighede wat teenaan die N1 kom, die residensiële ontwikkeling waar klein erwe nie voldoen aan die vereiste vir die beste residensiële gebied nie en die feit dat die geld van die ontwikkeling weereens uitbeweeg uit die streek. Daar is genoem dat die riool- en watersituasie in die dorp tans geen ontwikkeling toelaat nie.
Vrae oor die vloedlyn en die behoud van die natuur en trekroetes van die diere is verwys na verskillende studiegroepe. Sommige het gevoel dat die konsultante moontlik nie onafhanklik genoeg is nie, maar eerder oorkom as bemarkers van die ontwikkeling.
Die toutrekkery rondom die groengordel noord van Stubbsstraat en wes van die N1 is al meer as ‘n dekade aan die gang. In 1998 het die Raad ‘n beoogde ontwikkeling van die groengordel laat vaar weens heftige openbare beswaar. In 2005 is baie inwoners geskok deur die Raad se aanvaarding van ‘n tender van die Wanga-I-tole maatskappy, wie se ontwikkeling ook ‘n vulstasie sou insluit. Name van maatskappye het verander en die bewakers van die groengordel het teruggeveg, ook met skrywes aan die minister van omgewingsake. Die hoop op die ontwikkeling van ‘n botaniese tuin het opgevlam met ‘n raadsbesluit in 2006 om dit as ‘n ondersoekvoorwaarde vir die kliënt te stel. In Augustus daardie jaar het sommige ‘n sug van verligting geslaag toe daar ‘n moratorium op die groengordel ontwikkeling geplaas is, na omgewingskampvegters se heftige besware teen die verkoop van die grond voordat ‘n omgewingsimpakstudie en omgewingsbestuurstudie afgehandel is.
Die huidige impakstudie se tydskedule bepaal dat die meeste studies teen Mei vanjaar afgehandel moet wees, asook die mitigasie (vermindering) van publieke besware. Teen Junie moet die voorlopige verslag reg wees vir publieke kommentaar, met die tweede publieke vergadering in Augustus. Die finale verslag word saam met publieke kommentaar en briewe in November aan die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme oorhandig.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
