

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 April 2009
Eers het hy gedink iemand wil van hom ‘n April-gek maak, maar dit het gou tot hom deurgedring dat iemand wel sy bakkie gesteel het.
Ds. Philip Horn van die Hervormde Kerk Louis Trichardt kon op Dinsdag, 31 Maart, niks anders doen as om sy kop in ongeloof te skud nie by die leë parkeerarea waar sy bakkie minute vantevore nog gestaan het. In die bakkie was sy beursie met bankkaarte, identiteitsdokument, asook die kerk se kasboek. Hy was kwaad, maar wat hom meer ontstel het was die reaksie van die karwag in die betrokke parkeerterrein. Toe hy aan die man vra of hy iets gesien het, het die wag hom doodeenvoudig toegevoeg: “You didn’t ask me to watch it”.
Horn het middagete by Mike’s Kitchen by Makhado Crossing geniet.
“Ek parkeer altyd waar ek my kar kan sien. Die diefstal moes in ‘n kwessie van ‘n kwartier, helderoordag plaasgevind het,” vertel hy. Dit ten spyte van die feit dat die wagte hom en sy voertuig ken. Hy sê hy vra hulle nooit om na sy voertuig te kyk nie, want “wat help dit? As iets met jou kar gebeur sê hulle net jammer, hulle het niks gesien nie”.
Alhoewel die diefstal by Makhado Crossing plaasgevind het, meen ds. Horn dat geen mens met gemoedsrus by enige plek in die dorp kan inkopies doen of gaan uiteet nie, selfs met die wete dat jy ‘n karwag betaal het.
“Dit beteken net mooi niks,” sê Horn. Hy noem van ‘n vriend wie se voertuig in ‘n plaaslike parkeerterrein gestamp is. Toe hy die sekuriteitswag vra waarom hy nie die oortreder voorgekeer het nie, was die antwoord ook “You didn’t ask me to watch your car.” Nog ‘n vriend van hom, wat ook nie die karwag wou betaal, se voertuig is met ‘n skerp voorwerp van voor tot agter gekrap.
“Mense betaal die wagte bloot uit vrees dat hulle voertuie iets gaan oorkom,” sê Horn. Alhoewel hierdie spesifieke voorval by Makhado Crossing plaasgevind het, blyk dit dat soortgelyke probleme by talle ander sentrums in die dorp ook ondervind word.
In reaksie op die voorval het die sentrumbestuurder van Makhado Crossing, me. Ané Schoeman, gesê dat sy bewus is van die voorval en dat dit haar ongelukkig maak.
“Sover ek weet is dit die eerste voorval van sy soort. Ons wil nie ‘n presedent skep dat hier voertuie gesteel word nie,” het Schoeman gesê. Sy sê sy het intussen met die betrokke wag gepraat.
“Die wag het net gesê hy weet nie wanneer dit [die diefstal] moes gebeur het nie en dat hy nie die bakkie kan onthou nie. Al wat ek toe gedoen het is om die wagte te begin ruil, sodat hulle nie te gewoond raak aan ‘n spesifieke area nie. Ek dink nie dit is regverdig om hulle bloot net te laat gaan nie,” het Schoeman gesê.
Schoeman het verduidelik dat die karwagte nie deur die sentrum betaal word om die voertuie op te pas nie. Hulle is afhanklik van besoekers se betaling as enigste maandelikse inkomste. Daar is egter wel, volgens Schoeman, kliënte en huurders wat van hierdie wagte ‘n vaste bedrag betaal om na hul voertuie om te sien. Maar ten spyte daarvan dat hierdie wagte nie deur die sentrum betaal word nie, word daar wel van hulle verwag om na alle voertuie te kyk.
“Hulle het opdrag gekry om na al die voertuie te kyk. Of jy nou hier stop en nie vir die wag wil betaal nie, dit maak nie saak nie. Hulle moet na jou voertuig kyk,” sê Schoeman.
(Ds. Horn het gevra dat indien enige iemand dalk die kerk se kasboek êrens vind, hulle dit asseblief aan die gemeente moet terugbesorg).
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
