ADVERTISEMENT:

 

Hierdie polisie vangwa het op Donderdag, 26 Maart, nadat die skrywe aan die stasiebevelvoerder gerig is, aan die verkeerde kant van die straat geparkeer op ‘n gemerkte laaisone. Vermoedelik het die bestuurder van sy kollegas voor die polisiekantore opgelaai.

Polisievoertuie veroorsaak onmin in sakegebied

 

News  Date: 10 April 2009

 

Verskeie ondernemings in Kroghstraat, Louis Trichardt, is radeloos met sommige lede van die plaaslike polisie wat “verhewe bo die wet” is en “net stop waar hulle wil.”

Een van die motorhandelaars in Kroghstraat wat gekla het, is veral vies vir die polisie omdat polisielede na bewering gereeld die ingang na die onderneming blokkeer deur hul polisievoertuie daar te stop.

“Die polisiemanne los hulle bakkies net daar en loop weg. Partykeer bly hulle langer as ‘n halfuur weg! Ons kliënte wat dan by die werkswinkel wil uitkom, hoop op in toue. Dit is ‘n groot ongerief vir ons klante om te moet wag totdat die polisie eendag hulle voertuig kom verwyder.”

Nog ‘n eienaar het gekla en gesê “hoe moet die polisie verwag dat ons die wette van die land moet nakom, as hulle nie eers die basiese verkeersreëls kan nakom soos om op die regte plekke te parkeer nie?”

Op 17 Maart het van die ondernemings saamgespan en besluit om ‘n brief aan die plaaslike stasiebevelvoerder te skryf. Die stasiebevelvoerder was daardie dag nie beskikbaar nie en die waarnemende stasiebevelvoerder het op die brief gereageer. Hy het die onderneming wat die brief namens al die ander ondernemings geskryf het, telefonies beantwoord en het ‘n “probleem” gehad met veral die laaste paragraaf van die brief.

Die laaste paragraaf het die hoop uitgespreek dat die aangeleentheid op ‘n “civilized” manier opgelos kan word. (Die Zoutpansberger het ook ‘n kopie van die brief onder oë gehad). Die waarnemende bevelvoerder het versoek dat die woord “civilized” na “nice” verander moet word. Toe daar aan hom verduidelik dat die brief nie weer oorskryf of verander sal word nie, het die bevelvoerder, volgens die eienaar, toe geweier om iets aangaande die hele aangeleentheid te doen.

By navraag het plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadiki, gesê dat lede van die polisie aangespreek is en dat hulle voorts net op die gemerkte publieke parkeerareas sal parkeer. Hy het bygevoeg dat die vangwaens ook nie meer by die ingang van die motorhandelaar sal parkeer nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines