

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 April 2009
Die dreigende brandstof tekort behoort nie ‘n impak te hê op die ekonomie van die Soutpansberg-distrik nie.
Uit gesprekke met verskeie vulstasie-eienaars wil dit blyk dat daar genoeg brandstof beskikbaar sal wees vir inwoners van Louis Trichardt en die omliggende omgewing.
Mnr. Johan van Eeden van GT Verspreiders op Louis Trichardt sê die staking van vragmotorbestuurders en werkers in die padvragbedryf raak hulle glad nie. Hulle het hulle eie private vragmotorbestuurders wat hulle brandstof aanry.
“Ons het tans genoeg - amper ‘n week se brandstof in voorraad.”
Mnr. John Le Cornu van Mount Fuji Motors het ook bevestig dat hulle nie verwag om ‘n tekort te ondervind met hulle brandstof voorraad nie. ‘n Vulstasie op Musina, Copper Motors, het ook bevestig dat Engen onderneem het om aan hulle brandstof te voorsien. Hulle het ook ‘n genoegsame brandstof voorraad.
Intussen het mnr Avhapfani Tshifular, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleumvereniging (Sapia), gesê dat berigte dat die land op die rand van ‘n nasionale brandstoftekort by vulstasies staan, oordrewe is. Hy het bygevoeg dat meeste van die land se 5 000 vulstasies se voorraad in stand gehou word.
“Baie min vulstasies se petrol en diesel het op enige tyd heeltemal opgeraak.”

ADVERTISEMENT:
