ADVERTISEMENT:

 

Wyle Chris Tissink (35).

Sakeman se dood skok

 

News  Date: 17 April 2009

 

Die gemeenskap het met groot skok verneem van die onverwagte en tragiese dood van ‘n bekende sakeman, Chris Tissink (35).

Dit blyk dat Tissink net voor 12:30 op Dinsdag, 14 April, aan ‘n skietwond beswyk het. Sy liggaam is in die badkamer aangetref by een van sy sakepersele in Erasmusstraat. Geen gemenespel word in hierdie stadium vermoed nie, alhoewel die polisie se ondersoek voortduur.

Die onmiddellike omstandighede wat tot die tragedie gelei het, is onduidelik en baie vrae omhul die gebeure.

Wat wel baie duidelik is, is hoe besonder geliefd Chris onder sy vriende en in die gemeenskap was. Die nuus het vinnig versprei en minute na die voorval het vriende en sakekenisse by die perseel opgedaag. Vriende het ook dadelik na die plaas Vondeling vertrek om sy vrou, Rika, by te staan.

Chris sal onthou word as iemand wat altyd uit sy pad gegaan het om ander te help, nie net vir sy vriende en familie nie, maar almal wat oor sy pad gekom het. Hy het ‘n besonder sagte hart en liefde vir weeskinders gehad en was die afgelope drie jaar intens betrokke by die Abraham Kriel Kinderhuis in Modimole. Buiten die voorsiening van kos en toiletware, het hy van die kinders een maal ‘n kwartaal vir ‘n kamp geneem, wat vir hulle ‘n groot avontuur was.

“Chris was ‘n pa wat alles vir sy kinders en sy gesin doen,” sê ‘n hartseer Rika. Rika se pa, mnr. Harry Scorgie, sê dat Chris vir hulle soos ‘n eie kind was.

Chris was ook bekend vir sy goeie humorsin.

“Hy het die gawe gehad om op die rustigste oomblik ‘n opmerking te maak wat almal laat lag,” sê Rika.

Die gemeenskap onthou ook vir Chris as voorsitter van die skoukomitee, beide van die munisipale skou en die nuwe Expo.

Nog ‘n groot liefde van Chris was die ry van nasionale motorfietskampioenskappe en 4x4-kompetisies.

“Ons het nog die afgelope naweek saam met Chris met sy Jeep gery en beplan vir die motorfietskompetisie oor twee weke,” sê ‘n goeie familievriend, mnr. Willie du Preez. Een van Chris se ondernemings was juis ‘n motorfietswinkel, Northern ATV. Baie jong motorfietsryers is deur Chris gehelp en gemotiveer.

Sy ander ondernemings was Speed Cash en CT Finance en hy was ook ‘n aandeelhouer van Soutpansberg Paneelkloppers. Voordat hy ‘n jaar gelede sy eie ondernemings begin bedryf het, was Chris verbonde aan ABSA en Standardbank as makelaar. Die Tissink-gesin het hulle sowat tien jaar gelede in Louis Trichardt gevestig.

Chris is op 8 Desember 1973 in Klerksdorp gebore en het aan die Hoërskool Warrenton in die Noord-Kaap gematrikuleer. Hy en Rika is op 22 Maart 1997 in Jan Kempdorp getroud, waar hulle saam in die bankwese was. Rika het intussen oorgeskuif na die onderwys en is vir die afgelope drie jaar betrokke by die Tjokkertjies Kleuterskool van die CVO Skool Zoutpansberg. In hierdie tydperk was Chris baie betrokke by alle aspekte van die skool en het ook een jaar op die beheer-raad gedien.

Chris laat sy vrou, twee seuns, Ruald (7) en Trystann (3), asook sy moeder, twee susters en twee broers agter.

Volgens beplanning sal ‘n roudiens vir hom Maandag, 20 April om 11:00 in die AP Kerk plaasvind. Die diens sal waargeneem word deur ds. Leon du Toit.

Rika het haar dank uitgespreek teenoor die hele gemeenskap en hulle vriende.

“Dankie vir elkeen se SMSe, gebede en gedagtes. Ek bedank ook spesifiek die AP Kerk en tannie Babs Bridge vir haar reëlings. Dankie aan al my vriende en spesiaal vir Willie en Cornelia du Preez, twee mense waarsonder ons nooit sal kan wees nie. Ook dankie aan my ouers, Harry en Marie,” sê Rika.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines