

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 April 2009
Die bestuurder van ‘n luukse Toyota Corolla het op Goeie Vrydag (11de) beserings opgedoen toe hy tromp-op met ‘n ander voertuig in Bauhinistraat in Louis Trichardt gebots het.
Die bestuurder, wat na bewering onder die invloed van alkohol was, het in die verkeerde baan gery toe hy om die draai in Bauhiniastraat gesnel het en tromp-op met ‘n BMW gebots het. Met die trefslag het die Corolla ‘n lamppaal getref, omgeslaan en op sy sykant in die middel van die straat te lande gekom.
Die vermoede dat die bestuurder van die Corolla moontlik onder die invloed was ten tye van die ongeluk het ontstaan nadat omstanders leë drankbottels in sy voertuig opgemerk het en dit aan lede van die polisie op die toneel uitgewys het.
Een so ‘n omstander het gesê dat hy vyf keer vir die polisie die drankbottels in die Toyota uitgewys het en daarop aangedring het dat bloedmonsters van beide voertuie se bestuurders geneem moet word. Polisielede het, volgens hom, die versekering gegee dat bloedmonsters wel geneem sal word.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki kon egter teen Woensdagmiddag nog nie bevestig of daar toe wel bloedmonsters geneem is nie. Hy het gesê dat die bestuurder van die BMW nugter voorgekom het, maar dat die bestuurder van die Toyota, saam met sy passasiers, reeds per ambulans na die hospitaal vervoer is toe hy (Sadiki) op die toneel aangekom het. Daar kon ook nie vasgestel word hoeveel passasiers in die Toyota was nie en of hulle ernstig beserings opgedoen het.
Gerugte doen intussen die rondte dat die bestuurder van die Toyota die kind is van ‘n prominente inwoner. Hierdie gerugte kon nie teen druktyd bevestig word nie, aangesien die dossier “nog by die ondersoekbeampte” was en die beampte nog nie sy ondersoek afgehandel het nie. Volledige besonderhede oor die voorval sal bekend gemaak word sodra die ondersoek afgehandel is.

ADVERTISEMENT:
