

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 April 2009
Die lot van pensioenarisse in Zimbabwe bly onveranderd, ongeag die feit dat die algemene situasie in die land reeds sigbaar verbeter het, met voedselvoorrade wat weer op die winkelrakke verskyn.
‘n Mens het buitelandse valuta nodig om die goedere te koop en pensioenarisse het nie toegang tot hierdie weelde nie, sê pastoor Attie Botha van die Zimbabwe Pensioner Supporters Fund (ZPSF).
In sy verslag oor die jongste uitreik van die ZPSF na Zimbabwe, sê pastoor Botha selfs as hulle geld tot hul beskikking sou hê, is die pryse van die beskikbare voedselvoorrade geweldig hoog. ‘n Sak van 12,5kg mieliemeel kos nou R110 in Zimbabwe, 750ml kookolie R45, 250g koffie R65 en ‘n 1kg karton hawermout R60.
“Hoewel daar nou weer voorrade op die rakke beskikbaar is, sal dit nog lank vat voordat die pryse normaliseer. Die bejaardes gaan nog vir baie jare spesiale hulp nodig hê en ons sal met u hulp toesien dat hierdie pioniers en grondleggers nie vergete en honger gelaat word nie.”
Hy sê in die heropbou programme sal net diegene wat “waarde tot die ekonomie kan toevoeg” in diens geneem word. Mense tussen die ouderdomme van 50 en 65, wat nog nie in ouetehuise opgeneem is nie, word beskou as ongeskik vir diensplasing.
“Die bejaardes is daar ook heel onder aan die regering se hulplys.”
Die ZPSF-span onderneem elke ses weke ‘n uitreiktog met voedsel en ander noodsaaklike voorrade wat landwyd ingesamel word vir bejaardes in alle dele van Zimbabwe. In die jongste uitreikaksie het vyf gekwalifiseerde bestuurders met drie swaarvoertuie nagenoeg 28 ton kos, klere, ‘n rolstoel en ander hulpmiddels na die behoeftige bejaardes langs twee hoofroetes gebring. Die een groep het Masvingo, Mutare, Rusape, Marondera, Harare, Mvurwe, Binbura, Chinoyi, Chegutu, Kadoma, Kwe Kwe en Redcliff aangedoen waar drie bykomende tehuise in Mutare, tesame met ‘n aantal buitestanders, besoek is. Daar is ook besoek gebring aan Rusape, waar een ouetehuis gevaar loop om gesluit te word. In Rusape is ‘n inwoner van Resthaven Cottages aangetref aan wie daar noodsaaklike medikasie vanuit Suid-Afrika per versekerde, geregistreerde pos gestuur is. Al wat hy ontvang het, was ‘n oopgeskeurde, onverseëlde leë koevert. Die situasie op Chegutu was ook baie swakker as wat verwag is.
Die ander roete het gestrek vanaf Esigodini, verby Bulawayo, Boggies en Huis Vergesig in Gweru, tot by MUUS in Sherugwe en Zvishavane.
Oor die moontlikheid van oorvleueling van uitreik-aksies na die bejaardes in Zimbabwe, het past. Botha gesê: “Geen een enkele organisasie kan ooit die volledige nood van hierdie mense aanspreek nie. Hoe meer mense betrokke raak en hoe meer aksies onderneem word, hoe beter is die moontlikheid om ‘n sinvolle verskil te kan maak aan die wydverspreide, onbeskryflike fisiese en emosionele nood van hierdie magtelose mense.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
