

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Memorandum is tydens verlede Donderdag se protesaksies deur mnr. Charles Pieterse namens die gemeenskap aan die LUR van Vervoer, dr. T. Farisani oorhandig.
In die memorandum wat Pieterse, 'n plaaslike regsgeleerde, aan Farisani oorhandig het, pleit die gemeenskap by die owerheid, die regering van die dag en alle rolspelers om dringend in te gryp en gehoor te gee aan die klagtes en bekommernisse van die gemeenskap en die beskerming van hul mees fundamentele reg, die reg tot lewe. Verskeie probleemareas rondom die kwessie van swaar vragmotors wat gedwing word om deur die bergpas te ry, word in die memorandum uitgelig. Pieterse het afgesluit deur te sê, met verwysing na die regeringsamptenare, dat dit 'n gemeenskap se ondergang is wanneer goeie mense niks doen nie.
Na ontvangs van die memorandum het dr. Farisani sy meegevoel betuig met die Du Preez-egpaar wat hul kinders in 'n ongeluk met 'n weghol vragmotor verloor het. Hy het gesê dit is nog 'n voorbeeld van onnodige lewensverlies.
Farisani het gesê dat hulle definitief sal moet kyk na oplossings vir die probleem van swaar voertuie oor die berg. Hy het aangedui dat 'n taakspan reeds kyk na moontlike oplossings en belowe dat hulle saam met die gemeenskap sal werk.
Lede van die publiek wou onder meer by dr. Farisani weet wat sy departement vir die onmiddellike beplan. Hy kon egter geen definitiewe aanduiding gee of sy departement van plan is om die probleem onmiddellik aan te spreek nie. Op 'n vraag waarom hy vorige skrywe geïgnoreer het waarin hy duidelik gewaarsku word teen moontlike lewens verlies, het dr. Farisani sy rug gedraai en in sy voertuig geklim. Hy het nie geantwoord nie.

ADVERTISEMENT:
