

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 April 2009
Terwyl die nuus van die skielike dood van ‘n bekende plaaslike sakeman, mnr. Chris Tissink, as groot skok gekom het vir familie en vriende, het dit as ‘n groter skok gekom vir diegene wat nou beweer dat hy hulle uit miljoene rande bedrieg het.
Menige inwoner het die afgelope week hul verbasing uitgespreek oor die skynbare dubbele lewe wat Tissink gelei het. Hy is verlede Dinsdag, 14 April, met ‘n koeëlwond in die kop dood aangetref in die badkamer van een van sy ondernemings op Louis Trichardt.
Kort ná sy dood het gerugte die rondte begin doen dat talle van die dorp en streek se sakelui miljoene rande verloor het in beweerde fiktiewe beleggings wat Tissink as makelaar namens hulle sou gedoen het. Beleggingsbedrae van R10 miljoen en meer, met ‘n totaal van meer as R100 miljoen, waarvan daar nou geen rekenskap gegee kan word nie, word genoem.
In wat beskryf word as niks anders as ‘n piramiedeskema nie, is buitensporige hoë opbrengste aan beleggers belowe. In een geval het ‘n pensioenaris van die dorp al sy spaargeld (R200 000) belê en in een maand, volgens sy beleggingstaat, R44 000 aan opbrengs verdien.
Van Tissink se kliënte het egter begin snuf in die neus kry en by die beleggingsinstansies begin navraag doen, blykbaar net om uit te vind dat daar geen rekord is van hul beleggings nie. Tissink het homself vermoedelik geskiet, kort nadat hy deur van die beleggers hieroor gekonfronteer is. State wat maandeliks aan talle beleggers verskaf is, blyk ook nou vervals te wees.
‘n Groep van bykans 50 van hierdie beleggers het Dinsdag (21ste) ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring rakende hul beleggings. In gesprekke met van hierdie beleggers is daar gepoog om vas te stel wat die inhoud was van die 250-bladsy aansoek, maar hulle het verkies om hulle nie daaroor uit te laat nie. Die regter in die saak het op sy beurt beslis dat hy eers Donderdag (vandag) sal uitspraak lewer. Die afleiding kan egter gemaak word dat daar aansoek gedoen is om Tissink se boedel onder kuratorskap te plaas.
Tissink was ten tye van sy dood die middelpunt van ‘n polisie-ondersoek wat verband gehou het met beweerde ongerymdhede met beleggingsgeld wat plaasgevind het terwyl hy as makelaar werksaam was by Standard Bank. Hy het in Februarie 2008 by dié bank bedank en kort daarna het Standard Bank kriminele klagte teen hom aanhangig gemaak. Provinsiale polisiewoordvoerder supt. Ronel Otto het by navraag die ondersoek deur die polisie se Handelsmisdaadeenheid in Polokwane bevestig.
Sy het gesê dat die ondersoek onlangs afgehandel is en dat die dossier ten tye van sy dood in Pretoria gelê het vir beslissing of Tissink vervolg gaan word of nie. Wat die huidige beskuldigings teen Tissink betref, het sy gesê sy dra geen kennis daarvan nie en dat niemand dit al by die po-lisie aangemeld het nie.
By verdere ondersoek het dit ook aan die lig gekom dat Momentum, een van die nasionale beleggingsinstansies met wie Tissink sake gedoen het, op 2 Februarie vanjaar by die Finansiële Dienste Raad (FDR) aansoek gedoen het dat Tissink se naam van die FDR se sentrale register geskrap word.
Mnr. Douw Lotter, hoof van Momentum se forensiese ondersoekafdeling, het by navraag gesê dat hul aansoek om Tissink se naam van die rol te skrap, gedoen is op grond daarvan dat hy nie voldoen het aan vereistes ten opsigte van eerlikheid en integriteit nie.
“Daar word beweer dat hy met dokumentasie gepeuter het en vervalste state aan ‘n kliënt gegee het, wat die kliënt onder ‘n wanindruk gebring het oor die ware stand van sy beleggings-portefeulje met Momentum,” het Lotter gesê.
Op 11 Februarie vanjaar het die FDR wel Tissink se naam van hul register geskrap, wat beteken het dat hy nie meer as makelaar sou kon optree nie. Momentum het intussen reeds op 19 Januarie maatreëls in plek geplaas om alle transaksienavrae ten opsigte van Tissink se kliënte te ondersoek. Hulle het ook dadelik begin om Tissink se kliënte daarvan in kennis te stel dat sy naam van die register geskrap is en dat hulle gebruik moet maak van alternatiewe verteenwoordigers.
Lotter het ook bevestig dat hulle reeds begin het met die verkryging van beëdigde verklarings, wat aan die polisie oorhandig sal word vir verdere kriminele ondersoek.
Tissink het ook ondermeer beleggings by Sanlam gemaak. Mnr. Pieter Bester, hoof van Sanlam se Makelaarsdienste in Kaapstad, het by navraag gesê dat Tissink wel beleggings gemaak het by Sanlam, maar dat hulle vroeg in Maart vanjaar sy kode om geld by Sanlam te belê gesluit het, nadat dit rugbaar geword het dat sy naam van die sentrale FDR-register geskrap is.
Intussen is die groot vraag op almal se lippe steeds wat van die beleggers se miljoene rande geword het. Tog is daar dié wat ook van Tissink se dienste gebruik gemaak het en niks geld verloor het nie. Die verskil was egter dat hierdie beleggers nooit enige geld direk aan Tissink gegee het nie, maar self inbetalings gemaak het.
Vir talle van Tissink se familie en vriende is die gerugte maar ‘n bitter pil om te sluk. Baie sal hom onthou as iemand wat altyd bereid was om sy medemens te help, by talle skole betrokke was en baie gedoen het ten opsigte van liefdadigheid. Hy was ‘n kerkmens en het ‘n sagte plekkie gehad vir weeskinders. Self het hy ‘n weeskind aangeneem en het ‘n jarelange verbintenis gehad met die Abraham Kriel Kinderhuis op Modimolle.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
