ADVERTISEMENT:

 

Raad kyk na organogram, wil talle nuwe poste skep

 

News  Date: 24 April 2009

 

Die Makhado Munisipaliteit se organogram, wat alle bestaande en toekomstige poste aandui, is in nuwe konsepvorm voorgelê tydens verlede maand se raadsvergadering.

‘n Nuwe Departement van Ontwikkeling en Beplanning is deel van die konsep organisatoriese struktuur.

“Hulle wil byvoorbeeld vir voltydse raadslede sekretaresses aanstel. Ek glo nie dis nodig nie. Is die finansiële implikasies goed oorweeg? Dit is eerder nodig om die belangrike finansiële poste te vul,” was Raadslid Jacques Smalle se kommentaar.

In die organogram word die bestaande poste aangedui as vakant of gevul en die poste wat in die toekoms geskep gaan word, word as voorgestelde of nuwe poste aangedui.

In die burgemeester se kantoor is die poste van persoonlike assistent en sekretaris vakant en die pos van chauffeur is gevul. Die pos van ‘n bestuurder vir die burgemeester se kantoor is vakant en een administratiewe beampte en een geleentheidsbestuurder word voorgestel. In die Speaker se kantoor word ‘n pos van ‘n sekretaris en drie administratiewe beamptes voorgestel en die pos van persoonlike assistent vir die Speaker is gevul. Daar word ‘n sekretarispos vir die Hoofsweep voorgestel. Van die sewe bestaande poste is vier dus gevul en sewe nuwe poste word voorgestel.

In die kantoor van die munisipale bestuurder is daar nege bestaande poste, waarvan vyf ge-vul is, en ongeveer 16 nuwe poste voorgestel word. Die voorgestelde poste sluit in vier bestuursposte op Posvlak 1, onder meer ‘n interne ouditeur en ‘n bestuurder vir die munisipale bestuurder se kantoor. Van die streeksadministrateurs van die vier streke - Dzanani, Makhado, Waterval en Vuwani - is slegs die pos by Dzanani gevul.

Die nuwe voorgestelde Departement van Ontwikkeling en Beplanning vervang klaarblyklik die vorige Departement van Strategiese Beplanning en Ekonomiese Ontwikkelings en sekere afdelings word rondgeskuif na die nuwe departement of na ander departemente. Die vyf departemente wat in die hersiene struktuur onder direkteure staan, sal dan wees gemeenskapsdienste, finansies, korporatiewe dienste, tegniese dienste en ontwikkeling en beplanning

In die kritieke departement van tegniese dienste wys die organogram die een vakante pos op die ander, met baie voorgestelde poste. In die ewe kritieke finansiële afdeling is gevulde poste uiters skaars en daar is ook baie voorgestelde poste. Dit is min of meer die geval in die meeste departemente.

Wat die baie voorgestelde poste in die burgemeester se kantoor betref, gaan die gedagtes onwillekeurig terug na die tyd toe die burgemeester en die stadsklerk een sekretaresse gedeel het. Raadslede het met hul eie voertuie gery op eie koste en het nie geweet of hulle ‘n toelaag gaan ontvang nie.

“Dit het gegaan oor bestuursvermoë. As ‘n raadslid ‘n klein gaatjie in die teerstraat gesien het, is dit gerapporteer en dadelik reggemaak,” sê ‘n voormalige burgemeester wat anoniem wil bly.

“Daar was nege raadslede oor die dorp en Tshikota. Funksionele mense is aangestel wat die werk kon doen en wat toegewyd was. Jy moes die regte personeel hê. Departementshoofde het presies geweet wat aangaan en almal het hulle insette gelewer,” sê mnr. Brink Schlesinger, voormalige raadslid. Hy was ook in die nuwe bedeling in die Raad saam met mnr. Solly Noor.

“Ons het die dorp met ‘n oorskot van R20 miljoen gelos,” sê Schlesinger.

Dit was voor die dae dat die munisipaliteit 300 dorpe en woongebiede moes hanteer . Dit was ook in die dae voordat daar ‘n regeringsbydrae van R237 miljoen na die munisipaliteit gekom het.

Sommige voormalige raadslede noem die posteskepping ‘n “belaglike soustrein.”

Makhado Munisipaliteit sê in hul agtergrond tot die voorgestelde hersiening dat dit ‘n dringende item is en dat “nuwe poste geskep moet word, sommige poste opgegradeer moet word en ander poste ontvries moet word.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines