

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 April 2009
‘n Ongeluk wat vier jaar gelede by die Messina Spar gebeur het, is weer in herinnering geroep toe die Spar en die benadeelde kliënt onlangs die saak geskik het.
Me. Lyndell Herbert, het op 24 Maart 2005 by die uitgang van die winkel oor ‘n kabel geval en haar regterheup gebreek. Volgens die skikking moet Spar R900 000 skadevergoeding aan die klant betaal.
Verlede week het die 56-jarige me. Herbert, wat by Venetia Myn werksaam is, gesê dat sy verkies om glad nie meer oor die voorval te praat nie. Sy loop steeds moeilik en verduur liggaamlike en emosionele pyn. Haar regterbeen is 2.5cm korter as die linkerbeen.
Die bestuurder van die Messina Spar, mnr. Pieter Koekemoer, het op 21 April gesê dat die voorval onder die vorige bestuur gebeur het. Hy is nie bewus presies hoe die ongeluk gebeur het nie. Die winkel sien ook nou heeltemal anders daar uit as ‘n tyd gelede. Die Spar winkels word ongeveer elke vier jaar gemoderniseer en dan verander alles binne in die winkel. Klaarblyklik het die voorval gebeur in ‘n tyd van modernisering, met verskillende kontrakteurs aan die werk in die winkel.
Mnr. Koekemoer sê dat daar gevaartekens uitgestal word wanneer daar veranderings en moderniserings aan die gang is. Hy sien die ongeluk as een van daardie fratsongelukke wat gebeur.
“Ongelukke kan ook gebeur as daar byvoorbeeld kookolie op die vloer gemors word, wanneer ‘n klant per ongeluk ‘n bottel laat val het. ‘n Klant moet dit rapporteer en hy sal nie daarvoor hoef te betaal nie. Ons maak dadelik skoon, maar wat nou van daardie fratsongeluk as iemand daar val voor ons kan skoonmaak?” sê Koekemoer.
In die saak van Herbert teen die Spar, het die klaer aangevoer dat die winkel nalatig was deur die kabel daar te laat en nie die publiek te waarsku nie. In die hofstukke het Spar aanspreeklikheid ontken.
Koekemoer het gesê dat die Messina Spar nasionale versekering uitneem en dat die kostes in die Herbert saak deur die groter Spar-groep gedra word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
