

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 April 2009
Twee mans is Donderdagaand, 16 April, gearresteer deur die plaaslike polisie nadat dwelms in hulle besit gevind is.
Die twee mans, Raphael Chukwumezie (32) en Vitus Nkachuku (33), albei van Nigerië, is gevang nadat die polisie gereageer het op ‘n wenk van die publiek. Die twee verdagtes is gevind in ‘n huis en, nadat die huis deeglik deursoek is, is kokaïne in hulle besit gevind.
Chukwumezie en Nkachuku het albei op Vrydag, 17 April, in die plaaslike landdroshof verskyn en hulle saak is uitgestel tot 24 April.
In nog twee ander voorvalle het ‘n 34-jarige man van Tshikota, Jude Achinike, ook in die hof verskyn op drie aanklagte van dwelmhandel. Achinike, wat ook ‘n burger van Nigerië is, se saak is uitgestel tot 24 April.
Isdore Chimenzie Onyenez het ook in die hof verskyn op twee aanklagte van dwelmhandel. Sy saak is uitgestel tot 25 Mei vir verdere ondersoek.
Veral sosiale werkers op die dorp is bekommerd oor die toename in dwelmhandel in die dorp. Kinders, veral tieners, word die swaarste getref. Na bewering moedig kinders van die dorp mekaar aan om dagga te gebruik, omdat die gebruik van dagga kwansuis gewettig sal word in 2010 met die komende Sokker Wêreldbeker toernooi. Dit is egter nie die geval nie en maatskaplike werkers is dit eens dat dagga steeds ‘n onwettige dwelm sal bly.
Ouers wat bekommerd is dat hulle kinders dalk betrokke geraak het by die gebruik van dagga moet veral op let op gedragsveranderinge in die tiener. Nog tekens wat belangrik is om voor op te let is “mood swings” wat aggressief kan raak, bloedbelope oë, ‘n lustelose houding en ‘n gebrek aan konsentrasievermoë.
Sosiale werkers beveel aan dat kinders getoets word vir dwelms as daar enige van hierdie tekens waargeneem word. ‘n Dwelm toets-stelletjie kan van die apteek verkry word vir ongeveer R100.

ADVERTISEMENT:
