

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 April 2009
‘n Sekuriteitswag is Donderdagaand, 16 April, koelbloedig doodgeskiet tydens ‘n gewapende roof in Musina.
Die voorval het plaasgevind by ‘n wegneemetewinkel oorkant Baobab Petroleum in Ruhstraat.
Volgens kapt. Sydney Ringani, polisiewoordvoerder op Musina, het twee mans in hulle laat dertigs die winkel binnegekom. Een van die mans was gewapen met ‘n geweer.
Die mans het na bewering almal in die winkel beveel om plat op die vloer te gaan lê, waarna hulle die geldlaai begin leegmaak het. ‘n Sekuriteitswag het probeer om tussenbeide te tree, waarna die rower hom in die bors geskiet het. Die twee rowers het hierna op die vlug geslaan met ongeveer R10 000 en ‘n onbekende aantal pakkies sigarette wat hulle buit gemaak het.
Die sekuriteitswag, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, is inderhaas na die hospitaal geneem, maar is dood verklaar met sy aankoms.
Kaptein Ringani sê die polisie is besig om die saak te ondersoek en verwag om binnekort ‘n arrestasie te maak. Die twee verdagtes is vasgevang op sekuriteitsvideo, wat tans in die polisie se besit is vir verdere ondersoek.

ADVERTISEMENT:
