

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 May 2009
‘n Groep beleggers wat meen hulle is uit miljoene rande bedrieg deur wyle mnr. Chris Tissink van Louis Trichardt, het verlede Donderdag ‘n suksesvolle aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring om Tissink se boedel onder kuratorskap te plaas.
Die beleggers beskuldig Tissink daarvan dat hy miljoene rande in beleggingsgeld ontvang het, maar dit nooit belê het nie. Daar word verder beweer dat Tissink met dokumentasie gepeuter het en vervalste state aan kliënte gegee het, wat die kliënte onder ‘n wanindruk gebring het oor die ware stand van hul beleggings-portefeuljes. Tissink is op soortgelyke klagte in Februarie vanjaar, op versoek van Momentum, vanaf die Finansiële Diensteraad se sentrale register geskrap, wat hom verhoed het om verdere beleggings te hanteer.
“Wat dit op neerkom is dat ons die bestorwe boedel van mnr. Tissink gesekwestreer het op ‘n dringende basis,” het mnr. Ruan de Beer, wat namens die beleggers as regsadviseur optree, gesê. Dit sal beteken dat wanneer ‘n kurator aangestel word, Tissink se boedel as ‘n insolvente boedel beredder sal word.
Die beslissing ten gunste van die groep beleggers is deur waarnemende Regter Louw gemaak. Die applikante in die saak was twee van die beleggers op Louis Trichardt, mnre. Vic en Hannie Jacobs. Hul aansoek volg net meer as ‘n week ná Tissink klaarblyklik homself geskiet het, nadat hy deur beleggers gekonfronteer is oor vermiste beleggingsgeld. Aanvanklik was R200 miljoen aan “vermiste” beleggingsgeld ter sprake. ‘n Week na sy dood het die bedrag gekrimp tot ongeveer R100 miljoen. Dit wil voorkom asof eise van net meer as R50 miljoen nou teen Tissink se boedel ingedien gaan word.
Op ‘n vraag oor wie die aansoek in die Hooggeregshof gebring het, het De Beer gesê daar is ‘n groot groep beleggers betrokke en dat hulle met die aansoek bloot kragte saamgesnoer het.
“Dit help nie om 20 mense op die rol te kry as jy net twee nodig het nie,” het De Beer gesê.
Teen druktyd is daar nog geen kurator aangestel nie. Wanneer die aanstelling plaasvind, sal die kurator se eerste taak wees om ondersoek in te stel na waar die fondse heen is, wat gebeur het en natuurlik wat die situasie by die betrokke versekeringsmaatskappy, namens wie Tissink opgetree het, was. Van die vrae waarop die kurator sal antwoorde soek sal onder meer insluit of daar wel ooit geld inbetaal is en hoeveel, of die geld wanaangewend is, hoe geld uitbetaal is en aan wie dit uitbetaal is. In wat beskryf word as niks anders as ‘n piramiedeskema nie, is buitensporige hoë opbrengste aan beleggers belowe.
“Ons het hierdie agtergrond glad nie. Die hele gedagte van die aansoek was suiwer net om die proses te stop dat daar niks verder in die tussentyd kan gebeur nie,” sê De Beer. Daar is reeds bevestig dat die balju op Louis Trichardt opdrag gekry het om op al Tissink se bates beslag te lê.
Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het hierdie week weer gesê dat die polisie nog geen formele ondersoek in verband met die vermiste beleggingsgeld en skema geloods het nie, aangesien hulle steeds nog geen amptelike klag van bedrog ontvang het nie. Wat wel bevestig kon word, is dat Tissink binnekort gearresteer sou word insake klagte van ongerymdhede met betrekking tot beleggers se geld, in die tyd toe hy nog as makelaar by Standard Bank op Louis Trichardt werksaam was.
Mnr. Joop Dekker van Standard Bank se nasionale kommunikasie-afdeling het Dinsdag bevestig dat die Nasionale Vervolgingsgesag besluit het om Tissink te vervolg en dat sy arrestasie “onvermydelik” was, sou hy nog gelewe het. Die besluit volg ná ‘n polisie-ondersoek op aandrang van Standard Bank, nadat die bankgroep 15 klagte van beweerde bedrog en ongerymdhede rakende kliënte se beleggingsgeld ontvang het terwyl Tissink nog in hulle diens was. Hy het egter in Februarie verlede jaar bedank, voordat daar dissiplinêr teen hom opgetree kon word.
“Aan siviele kant het ons met sy [Tissink] se prokureur in verbinding getree en was daar ‘n skikking, van sy prokureur se kant af, vir eise wat van sy kliënte teen die bank ingedien het toe hy nog in ons diens was,” het Dekker gesê. Die skikkingsbedrag, sê Dekker, wat Tissink aan die bank sou moes terugbetaal vir eise wat deur kliënte gebring is, het meer as R600 000 beloop.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
