ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Thinus Steyn (57).

Bekende konstruksieman oorlede

 

News  Date: 01 May 2009

 

Mnr. Thinus Steyn (57), ‘n bekende boukontrakteur in Louis Trichardt en omstreke, is Donderdag, 23 April skielik oorlede aan hartverwante komplikasies na ‘n operasie om verstopte are in sy bene te herstel.

Volgens Dawn, sy eggenote van 33 jaar, was hulle vol hoop dat hy sou herstel, maar ‘n ruk na die operasie het hy asemhalingsprobleme begin ondervind. Hy is toe aan ‘n ventilator gekoppel. Plate is geneem van sy longe om vas te stel of daar probleme is. Die vermoede bestaan dat hy ‘n hartaanval gehad het, waarna ‘n angiogram gedoen is om vas te stel of alles wel is met sy hart. Daar is toe bevind dat die are na sy hart verstop was, wat ‘n hartomleiding sou beteken – ‘n groot risiko vir iemand in sy toestand. Teen daardie tyd het sy organe egter begin versaak, wat sy kanse op oorlewing uiters skraal gemaak het. Daar is toe teen die operasie besluit en sy familie het van hom afskeid geneem. Die medikasie is geleidelik verminder en hy is ‘n paar uur later oorlede.

Thinus is in Johannesburg gebore op 30 Augustus, 1951, en hulle gesin het na Louis Trichardt verhuis toe hy twee jaar oud was. Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het en sy weermagverpligtinge afgehandel het, het hy hom aangesluit by die Joshua Doore-groep, waar hy later ‘n streeksbestuurder geword het. In 1992 het hy die groep verlaat om homself in die boubedryf te vestig. Van die bekende strukture wat hy opgerig het, is die Spar-sentrum, die dienssentrum vir bejaardes, die kindersaal en operasieteater by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, asook die uitbreidings aan die Zoutpansberg Privaathospitaal, om maar net ‘n paar te noem.

Thinus en Dawn het vier kinders, Inus, Riana, Christine en AW. Hy was veral betrokke by kerklike aktiwiteite. Sy familie dink met dankbaarheid terug na sy lewe as Christen en gesinsman. ‘n Gedenkdiens is vir hom gehou by die NG Moedergemeente op 29 April.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines