

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 May 2009
Die probleem van onwettige jag op plase is steeds ‘n bron van ernstige kommer vir boere met talle wat jaarliks derduisende rande hierdeur verloor.
Wanneer daar gepraat word van onwettige jagters, het baie mense steeds ‘n wanpersepsie van wat dit presies behels. Dit is selde iemand wat op die “langplaas” nou en dan ietsie vir die pot gaan skiet nie. Nee, dit behels groepe mense wat met uitgehongerde honde plase betree. Die honde word gebruik om prooi aan te keer, waarna dit met spiese en knopkieries gedood word. Dit is ‘n wrede en barbaarse jagmetode, maar darem ‘n vinniger dood in teenstelling met die ongelukkige diere wat in draadstrikke beland en letterlik oor ‘n uitgerekte periode van honger en dors vrek.
“Verlede jaar het ons R37 000 se wild verloor. Hierdie jaar het ons al twee rooibokke, een koedoekoei, vier vlakvarke en ‘n gemsbokkoei met ‘n kalf verloor,” sê mnr. Frikkie de Jager van Castaro Lodge aangrensend tot die Nzhele-grondpad, noord van die Soutpansberg. Hy meen wetstoepassers is traag om hul klagtes te ondersoek, alhoewel die polisie gereeld plase besoek om te hoor of daar klagtes is.
“Ons kla nie meer nie, want niks word omtrent die klagtes gedoen nie,” sê Frikkie. Hy sê dat selfs wanneer ‘n onwettige jagter wel aangekeer word, gebeur daar ook nie veel nie en verwys na een saak teen ‘n onwettige jagter wat al sedert 2006 sloer.
“Ons moet kort-kort by die hof wees, maar die verdagte daag bloot eenvoudig net nie op nie. Intussen is hy al twee keer op soortgelyke klagte aangekeer,” sê Frikkie.
Frikkie sê hulle kyk nou na ander maniere om die probleem van onwettige jagters aan te spreek.
“Ons wil nou maar met die hoofmanne van die betrokke woongebiede gaan praat oor die probleem. Miskien kan hulle met hulle mense praat,” sê Frikkie. Op sy plaas maak hy ook gebruik van uiters duur infrarooi-kameras om die booswigte te probeer betrap.
Op Maandag, 20 April, om 20:37 het hy sukses gehad toe ‘n groep van sowat vyf onwettige jagters en hul honde op kamera vasgevang is. Een van die verdagtes, sê hy, ken hy, want dié is al voorheen op klagte van onwettige jag aangekeer. Frikkie meen dat dit ‘n duidelik bewys is dat die strawwe wat die jagters opgelê word, nie ‘n voldoende afskrikmiddel is nie.
“Dit maak mens moedeloos. Moet ons nou maar die gereg in eie hande neem?” vra hy.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
