ADVERTISEMENT:

 

Slote vir telefoonkabels sorg vir baie ongerief

 

News  Date: 09 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Slote wat tans vir Telkom gegrawe word, het reeds talle inwoners die harnas ingejaag.

Verlede week was 'n inwoner van Presidentstraat, mev. Maryna Swanepoel, 'n dag lank sonder water en 'n ander dag sonder krag. Die geyser wou nie ophou lek nie en verder het sy haar ook bekommer oor die wortels van die bome in die straat wat raakgegrawe word.

Die waterpyp voor mev. Swanepoel se huis is verlede Dinsdag tydens die uitgrawings beskadig, waarna die water vir 'n tyd lank afgesny was.

"Na die water aangekom het, was daar soveel sand in die water dat ek daardie aand nie my kraan kon toekry nie. Daarna het die geyser weer begin lek. Ek het 'n maand gelede die kleppe vervang," sê mev. Swanepoel. Sy sê sy wonder hoeveel haar munisipaliteitsrekening gaan wees. Die water wat uit die geiser drup, het reeds damme gevorm agter in haar erf.

Verlede Donderdag was mev. Swanepoel sonder krag, nadat werkers 'n kragkabel beskadig het. Buiten hiervoor het die werkers ook 'n diep sloot deur mev. Swanepoel se oprit gegrawe sodat sy nêrens heen kon gaan. Sy het ook gesien hoedat die bome se wortels beskadig word.

'n Woordvoerder van die subkontrakteurs, wat verantwoordelik is vir die uitgrawings namens Telkom, het bevestig dat die waterpyp beskadig is, maar het gesê dat dit afgesny was aan die munisipale kant van die watermeter en dat dit nie waterverlies aan mev. Swanepoel se kant tot gevolg kon hê nie. Daar is ook 'n sif by die meter wat die sand sou keer. Hy het bespiegel of die nuwe kleppe van die huis se geyser dalk foutief kon wees. Hy het ook bevestig dat die kragkabel onder die groot boom deur foutief was.

"Dit kon wel beskadig gewees het met die oopgrawe. Wat die boomwortels betref, die boom is wyd gewortel en die paar wortels wat afgekap is vorm seker nie 3 % van die boom se wortels nie," het die woordvoerder van die subkontrakteurs gesê.

Die doel van die slote is om telekommunikasie pype met kabels in te lê vir koppeling tussen Vodacom- en Telkomdienste (ring feed). Die pype word gelê in Presidentstraat oor Joubertstraat en in Erasmusstraat oor Krugerstraat tot by Burgerstraat. Vandaar gaan die kabels regs af in Burger tot by Telkom se sentrale. Volgens die woordvoerder van die subkontrakteurs verwag hulle om teen middel April klaar te wees, afhangende van weersomstandighede.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines