

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 May 2009
Die 24-uur kiosk by Bridge Motors op Louis Trichardt was Saterdagoggend, 2 Mei die jongste slagoffer van ‘n gewaagde gewapende roof.
Die hele roof is op sekuriteitskamera vasgelê en herinner sterk aan ‘n Amerikaanse rampokker rolprent. Die roof het slegs sowat drie minute geduur vandat een van die booswigte sy pistool op die kassiere gerig het. ‘n Groot hoeveelheid kontant is gebuit.
Twee ongemaskerde rowers het sowat tien voor twee die oggend die winkel doodluiters binnegestap en voorgegee om ‘n pakkie sigarette by die kassiere te koop. Heel rustig het hulle eers gewag dat ‘n kliënt die winkel verlaat. Daarna het hulle vir die pakkie sigarette betaal, maar toe die kassiere die geldlaai oopmaak om kleingeld uit te haal, het een van die rowers ‘n pistool uitgepluk, dit oorgehaal en op die kassiere gerig.
Die ander rower het om die toonbank getap en dood luiters begin om die geldlaaie leeg te maak, terwyl sy gewapende makker ‘n wakende oog gehou het oor die kassiere. Laasgenoemde het sekondes later by sy makker agter die toonbank aangesluit, die geld in ‘n plastieksakkie gesit, ‘n paar pakkies sigarette gevat en te voet in Kleinstraat af op die vlug geslaan. Die kassiere, erg geskok, het kop gehou en dadelik die paniekknoppie binne die winkel gedruk. Die sekuriteitsmaatskappy en polisie was vinnig op die toneel, maar daar was geen teken van die rowers nie. Eienaar van die kiosk mnr. Louis Nel het sy dank uitgespreek teenoor die sekuriteitsmaatskappy en polisie vir hul vinnige reaksie.
Die rowers se geluk het egter geblyk van korte duur te wees. Plaaslike polisiewoordvoerder Kapt Maano Sadike het bevestig dat twee verdagtes Maandag op Tshilwavhusiku in verband met die roof gearresteer is. Die verdagtes word tans ook verbind met die onlangse gewapende roof by Safari Motors, asook verskeie huisbrake op die dorp. ‘n Groot hoeveelheid kontant, asook ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie, is in die verdagtes se besit gevind. Die verdagtes sou Woensdag in die hof op Louis Trichardt verskyn het.

ADVERTISEMENT:
