ADVERTISEMENT:

 

‘n Verheugde Lynne Murray (regs), oorhandig die sertifikaat en R500-beloning aan Chico (links), nadat hy ‘n groothartige poging aangewend het om haar gesteelde motor terug te vind.

Bostelegram help om gesteelde kar te herwin

 

News  Date: 15 May 2009

 

“You must come fast. Your car is here!” Hierdie woorde het gehelp dat ‘n gewone voertuigdiefstal op ‘n gelukkige noot afsluit en bewys dat misdaad voorkom kan word as lede van die publiek saam staan.

Mev. Lynne Murray, bekende eiendomsagent op Louis Trichardt, se Mercedes Benz is Dinsdagoggend voor haar woonstel by Overpark in Kiaatstraat gesteel.

Lynne vertel dat sy ongeveer 02:00 wakker gemaak is deur haar klein hondjie, wat vrees-lik geblaf het.

Niksvermoedend het sy met die hond geraas en hom aangesê om stil te bly.

“Ek het gedink dit is weer my buurman se hond wat daar kom pla. Gewoonlik maak ek die deur vir my hond oop, dan gaan blaf hy vir alles en almal in die straat en kom dan terug huis toe as hy klaar is.”

Weens die snerpende oggendkoue, het Lynne egter besluit om nie vir haar woef oop te maak nie.

Lynne het teen dagbreek van die hond se geblaf vergeet en eers agtergekom dat haar motor skoonveld is nadat haar werkgewer haar daaroor uitgevra het.

“My kar was by die motorhawe vir drie weke gewees en toe Gwen vra of my kar dan nog steeds daar is, het ek vir haar gesê dat hy al lankal terug is. Eers toe besef ek my kar staan nie meer voor my woonstel nie.”

Lynne was uit die veld geslaan, veral omdat die motor van hoek tot kant vol van Realty 1 se reklame plakkers is en haar naam, asook selfoonnommer, amper lewensgroot op die voer-tuig gedruk is.

“Gelukkig leer ek baie mense in my werk ken,” vertel Lynne. Sy het dadelik een van haar vriende, George Mugeri, gevra om die woord deur die bostelegraaf te versprei dat haar kar ge-steel is.

Dié bostelegraaf het toe haar, die dorpswag en die polisie se stoutste verwagtinge oortref.

“Mens sal nie glo hoe vinnig die bostelegraaf kan werk nie!”

Teen Dinsdagaand het Lynne ‘n Please call me-SMS ontvang van ‘n onbekende nommer. Gewoonlik reageer Lynne nie op sulke SMSe nie, maar daardie dag het ‘n stemmetjie vir haar gesê om te antwoord.

“Ek het toe ‘n SMS teruggestuur aan die persoon waarin ek sê dat ek nie op sulke boodskappe antwoord nie, tensy dit dringend is.”

‘n Rukkie later het Lynne toe ‘n oproep ontvang van die persoon wat die SMS gestuur het. Hierdie persoon het Lynne skaars die geleentheid gegun om haar selfoon behoorlik te antwoord, toe hy haastig vir haar sê “You must come fast. Your car is here!” Hy het ook aan haar verduidelik dat hy nie lank kan praat nie, want hy het nie lugtyd tot sy beskikking nie.

Lynne het dadelik teruggeskakel om uit te vind wat presies die man van haar kar weet. Mnr. Chico Silziba van Levubu het geantwoord en gesê dat hy haar motor in Levubu opgemerk het. Hy het toe verduidelik dat hy aanvanklik nie die nommer op haar kar kon skakel nie, want sy lugtyd was op en hy moes eers R5 gaan leen om haar te skakel. Dit was waarom hy haar die SMS gestuur het.

“Ek was aangenaam verras toe ek agtergekom het dat Chico, wat my van geen kant af ken nie, tot sulke uiterstes gegaan het om my te skakel om vir my te sê dat hy my kar sien staan het in Levubu.”

Lynne, wat oneindig dankbaar was om te hoor dat haar motor teruggevind is, het toe besluit dat sy graag haar dank op ‘n meer tasbare wyse wil toon. Sy het besluit om vir Chico ‘n sertifikaat te laat maak wat hom bedank vir sy uitstaande gemeenskapsdiens. Tesame met die sertifikaat het sy ook ‘n R500 beloning aan hom oorhandig.

Die polisie op Louis Trichardt het intussen Lynne se motor vanaf Levubu na Louis Trichardt gesleep, nadat dit vermoedelik sonder brandstof gaan staan het. Die rowers het egter nog steeds weggekom met die Mercedes se battery en Lynne se Rhodesiese kiaat houtstoel wat agterin die motor was.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines