ADVERTISEMENT:

 

Me. Karin Johnson vertoon die bloukolle wat nog oor is na haar onderonsie met ‘n handsakdief op 30 April.

Handsakdief loop sy rieme styf

 

News  Date: 15 May 2009

 

‘n Traumatiese voorval van handsakdiefstal in Louis Trichardt het ‘n verrassende einde gehad.

Me. Karin Johnson, wat die gewoonte gehad het om elke dag in haar etensuur van die werk af te stap om haar moeder te besoek, stap nie meer nie.

Tydens een so ‘n stappie het ‘n swartman skielik op haar afgepeil en na haar handsak gegryp.

“Hy het geweld gebruik om my handsak uit my hand te kry. Hy het my geruk en gepluk, terwyl ek baklei het vir my handsak. Met die gepluk het die handsak se bandjie gebreek en hy het gehardloop,” vertel Karin, wat agt dae later nog merke op haar arm kon sien.

“In daardie oomblikke gaan baie dinge deur jou gedagtes en jy kan die skok vir geen mens beskryf nie,” sê sy. Die skok was des te groter, omdat dit die einde van April was en haar salaris, selfoon, beursie met kaarte en belangrike dokumentasie in haar sak was.

Die voorval het op 30 April omstreeks 11:45 in Bredastraat, amper op die hoek met Kroghstraat, plaasgevind.

Karin sê dat sy geskreeu en alarm gemaak het. Drie ander swart mans het die handsakdief agternagesit en hom vasgetrek. Hulle het hom nie sagkens behandel nie en die vermeende dief, asook die handsak, teruggebring na die toneel van die misdaad. Karin het gehoor hoe die drie mans vir hom in Engels sê “Dit is mense soos jy wat ons naam slegmaak!”

Die voorval het naby Karin se ma, mev. Joan Fourie, se woonstel plaasgevind. Dié het intussen die polisie geskakel en hulle was spoedig op die toneel om die verdagte in hegtenis te neem.

“As ek nou ‘n vrou langs die pad sien stap, voel ek lus om by haar te stop en vir haar te sê om paraat te wees en pepersproei by haar te dra. Sy moet glad nie geld saam met haar dra nie,” sê Karin. Sy is ook baie dankbaar teenoor die drie mans wat haar te hulp gesnel het en haar handsak kon terugkry.

Kapt. Maano Sadiki, plaaslike polisiewoordvoerder, het ná die voorval gesê dat dit nie wys is om jou teë te sit in so ‘n situasie nie, want jy weet nie of die aanvaller gewapen is nie. In dieselfde asem het hy inwoners gewaarsku om, wanneer booswigte gevang word, hulle nie aan te rand nie, maar eerder die polisie te skakel by noodnommer 083 206 5594. Sadiki het inwoners vermaan om afgesonderde dele van die dorp te vermy.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines