ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Bertie Gillaume (77).

Legendariese oom Bertie skielik oorlede

 

News  Date: 22 May 2009

 

Die Soutpansberg-gemeenskap is vandeesweek geruk deur die dood van nog ‘n prominente boer, die legendariese oom Bertie Gillaume (77) van die plaas Geluk.

Hy is Maandagnag omstreeks 20:30 in die hospitaal in Pretoria oorlede, nadat hy aanvanklik goed aangesterk het ná ‘n aarvervangingsoperasie in sy been. Hy het vermoedelik ‘n hartaanval gehad en is teruggeplaas in die waakeenheid.

Volgens gesinslede wat by hom was ná Saterdag se operasie, is hy Sondagmiddag oorgeplaas na ‘n algemene saal en het hy dieselfde dag alreeds ‘n ent gestap. Hoewel hy gesê het hy voel moeg, was sy algemene toestand goed. Hy het voorheen al ‘n hartomleidingsoperasie ondergaan, asook twee vroeëre aarvervangings.

Maandag is hy teruggeplaas in die waakeenheid, nadat hy asemhalingsprobleme ondervind het.

Oom Bertie was die laaste oorlewende stigterslid van die Suid-Afrikaanse Professionele Jagtersvereniging en het met sy Brom ‘n Nel-cliviakwekery op die Witvlagpad, waarskynlik oor die grootste enkele cliviaversameling in die land beskik.

In die jare vyftig is hy na Zambië, waar hy vir etlike jare geboer het. Ná sy huwelik met eggenote Erda, het hy in die omgewing van Potgietersrus gaan boer. Die gesin het hulle in 1974 in die Soutpansberg kom vestig. Gedurende die afgelope 10 jaar het oom Bertie hom toenemend toegespits op die cliviaboerdery, wat internasionaal bekendheid verwerf het.

Gedurende sy lewe het hy wêreldwyd gejag. Trofeë uit Alaska, Amerika en Europa pryk in sy uitgebreide versameling. Hy het sy jagtersloopbaan in 1973 afgesluit, nadat hy ‘n rekord-grootte olifant in Mosambiek gejag het. Dié trofee met wêreldrekord tande is deel van die indrukwekkende versameling wat hy nalaat.

Oom Bertie word oorleef deur sy vrou Erda, sy drie kinders, Daan, Bertus en Celia, en ses kleinkinders.

‘n Roudiens word Vrydag, 22 Mei om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt vir oom Bertie gehou.

 

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines