ADVERTISEMENT:

 

Klein Reinhardt in die waakeenheid in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal. Reinhardt het goed gereageer op die kankerbehandeling en die telling het drasties afgekom, maar hy het ‘n terugslag beleef en veg tans dapper terug. Foto verskaf.

Klein Reinhardt veg dapper stryd

 

News  Date: 22 May 2009

 

‘n Mens se hele lewe kan in ‘n oogwink verander. Hiervan kan Ryno en Louise Smit van Louis Trichardt getuig.

Hulle klein blondekop seuntjie, Reinhardt, wat altyd ‘n besige outjie was, lê stil in ‘n hospitaalbed en veg dapper vir sy lewe.

“Ons weet dat ons hierdie stryd gaan wen, want ons het die Here aan ons kant,” sê ma Louise.

Reinhardt, wat nou drie jaar en agt maande is, is op 20 April gediagnoseer met akute limfoblastiese leukemie. Hy het gou met behandeling by die Little Company of Mary hospitaal begin en het ‘n groot verbetering ná twee weke getoon.

“Sy beenmurgtoets het op 20 April 95% kankerselle gewys en op 5 Mei slegs 5 %,” vertel die ouerpaar. Die behandeling word in vyf fases gedoen, waarvan die eerste vier opeenvolgend oor ses maande plaasvind. Die eerste reeks sou op 26 Mei ten einde loop.

Verlede week het Reinhardt egter begin dehidreer. Op Donderdag, 14 Mei, het dinge baie donker gelyk. ‘n Familievriendin, Lize Strauss, vertel:

“Tydens sy opname in die hospitaal het Reinhardt ‘n epileptiese aanval gekry en sy toestand het drasties versleg. Hy was in ‘n semi-koma en is toe oorgeplaas na die Zuid-Afrikaanse Hospitaal se hoësorgeenheid. Hy moes bloedplasma ontvang. Sy magie het inwendig begin bloei as gevolg van al die medisyne en hulle moes ‘n pyp insit om die bloed te dreineer. Sy natriumvlakke het gevaarlik laag gedaal. Dit het sy toestand kritiek gemaak.” Intussen het pa Ryno SMS’e uitgestuur met ‘n oproep om vir sy seuntjie te bid.

Kort ná die naweek is berig ontvang dat Reinhardt se toestand stabiel is. Die dokter was baie tevrede daarmee dat Reinhardt al 500ml melk binnegehou het.

“Reinhardt praat al met ons en wil al ‘n bietjie eet. Daar is elke dag iets om oor bly te wees. Hy stry al ‘n bietjie meer met ons!” het ‘n moedige Louise Maandag gesê.

Reinhardt se ouers waak dag en nag by hul kind se bed. Hulle los mekaar af, want kleinboet Ewan, wat in Junie twee word, moet ook versorg word. Ewan kan nie nou kleuterskool bywoon nie, want geen virusse of bakteriële infeksies moet nou naby die gesin kom nie. Louise se ouers het gelukkig ook kom hand bysit.

Beide Smits is sakepersone wat hul eie besighede bedryf, ma Louise ‘n haarkapper en pa Ryno ‘n professionele jagter. Die mediese fonds hou nog, maar daar is ongelooflik baie onkostes rondom so ‘n situasie.

Die gemeenskap maak alreeds hulle harte wyd oop. So het ‘n barmhartige Samaritaan verblyf in Pretoria vir die maand aan hulle verskaf en het vriende en familie al begin met finansiële bydraes. Die Smits het gesê dat hulle graag die gemeenskap, vriende, familie, kliënte, dr. Gaigher en die APK-Kerk opreg wil bedank.

“Dit is julle wat ons staande hou in hierdie moeilike tyd.”

‘n Trust word gestig deur Van Heerden en Rudolph Prokureurs, maar omdat dit weke neem om ‘n nuwe trust te stig, kan bydraes reeds inbetaal word in die firma se trustrekening: Van Heerden en Rudolph Trust Rekening, Absa Bank Louis Trichardt, Rekeningnommer 100 574 0840, Verwysing: Reinhardt Smit Fonds.

Lize Strauss het ook gereël dat daar by sentrale punte bydraes gemaak kan word wat dan in die trust inbetaal sal word. Vir meer inligting hieroor, kan sy geskakel word by 082 320 6280.

Reinhardt se bloedgroep, AB+, is ook redelik skaars en hy moet gereeld bloedoortappings ontvang. Bloedskenkers wat in hierdie bloedgroep val en spesifiek vir Reinhardt bloed wil skenk, kan dit so aandui by die bloedskenkingsdiens.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines