ADVERTISEMENT:

 

Saak teen Botha-moordverdagtes weer uitgestel

 

News  Date: 22 May 2009

 

Die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle op Donderdag, 19 Februarie, die 78-jarige mev. Tienie Botha vermoor het, het op 7 Mei weer in die hof op Louis Trichardt verskyn.

Die vyf mans sou na verwagting om borgtog aansoek gedoen het, maar die saak is weereens uitgestel tot 21 Mei, omdat hul prokureur, mnr. Nefolovhodwe, op siekverlof was en nie by die hof opgedaag het nie. Tydens hul vorige hofverskyning op 18 Maart vanjaar is daar vertroulik verneem dat die rede waarom daar nie toe om borg aansoek gedoen is nie, was omdat hul prokureurs gevoel het dit was nog te kort na die moord en dat, sou die vyf moontlik borg kry, dit die gemeenskap erg ongelukkig sou maak.

Intussen is daar sprake dat drie van die rowers verbind kan word met die aanval op twee vrouens van die dorp in Januarie vanjaar in Andersonstraat. ‘n Bende van vyf rowers het ‘n vrou en haar skoonsuster in hul woonhuis oorrompel, aangerand en beroof van ondermeer juwele en selfone. Een van die rowers was gemasker gewees.

Die 56-jarige vrou wat aangerand is, het hierdie week bevestig dat sy drie van haar en haar skoonsuster se aanvallers uitgeken het, nadat sy die foto’s van die vyf Botha-verdagtes in die koerant gesien het. Haar man het bygevoeg dat een van die verdagtes, David Lihaiwa, by sy maatskappy werksaam was en dat hy ‘n sterk vermoede het dat Lihaiwa die gemaskerde aanvaller was. Verlede week is die egpaar deur die ondersoekbeampte in hul saak meegedeel dat die drie wat hulle uitgeken het, weier om vir ‘n uitkenningsparade te staan.

By verdere navraag het polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike bevestig dat daar nog nie ‘n datum vir ‘n uitkenningsparade vasgestel is met betrekking tot die aanval op die twee vrouens nie en dat die ondersoekbeampte vir goedkeuring vanaf die stasiebevelvoerder wag.

‘n Plaaslike prokureur het gesê dat verdagtes wat in aanhouding is net mag weier om te staan vir ‘n uitkenningsparade as al die persone wat op die parade staan nie min of meer dieselfde gelaatstrekke as hulle het nie. Verdagtes mag ook aandring daarop dat hul prokureur teenwoordig is tydens die parade.

Die vyf, David Lihaiwa (29), Rudzani Mufamadi (29), Manuel Zitha (36), Thobile Jili (26) en Thomas Ramudzuli (40), is steeds in aanhouding.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines