ADVERTISEMENT:

 

Die Finse paspoort wat Muncinelli later probeer vernietig het en in die toilet probeer wegspoel het.

Verdagtes in bedrog-sindikaat vas danksy winkelpersoneel

 

News  Date: 22 May 2009

 

Die flink optrede van personeellede van die twee CNA-takke op Louis Trichardt het verlede week gelei tot die arrestasie van drie vermeende lede van ‘n massiewe nasionale bedrog sindikaat.

Mev. Yolande van Zyl, bestuurder van die nuwe CNA-tak by Makhado Crossing, het vertel hoe ‘n goed-geklede vrou, wat haarself voorgedoen het as ene “Aurora Mancinelli,” op Dinsdag, 12 Mei, by die winkel ingestap het en altesaam R20 000 se goedere gekoop en per kredietkaart betaal het. Die vrou het ‘n Finse paspoort as identifikasie getoon en verduidelik dat hulle onlangs vanuit Suid-Afrika na Finland gëemigreer het.

Aanvanklik was Van Zyl heel opgewonde oor die dag se goeie verkope en selfs die bestuurder van die ander CNA-tak in Songozwistraat, mnr. Amos Muleya, het haar die aand geskakel om te verneem van die goeie verkoopsyfer. Van Zyl het hom toe vertel van die vrou en wat presies haar aankope was.

Mancinelli is die volgende dag weer terug na die CNA-tak by Makhado Crossing, waar sy weer aankope wou doen. Sy het vir Van Zyl gevra, maar dié was nie in die winkel nie, aangesien dit etenstyd was. Mancinelli is toe na die CNA-tak in Songozwistraat om haar aankope te doen.

Muleya het egter onmiddellik agterdogtig geraak toe hy merk dat Muncinelli presies dieselfde goedere, plus ‘n ekstra twee selfone, koop as wat sy die vorige dag by die ander CNA-tak gekoop het. Hy het dadelik vir Van Zyl geskakel. Van Zyl het hom toe versoek om die vrou so lank as moontlik daar te hou deur voort te gaan met die transaksie. Sy het hom ook versoek om fotokopieë van die vrou se paspoort en kredietkaart te maak as deel van die “magtigingsproses.” Sy het haar toe na die tak in Songozwistraat gehaas.

Intussen het Mancinelli blykbaar begin koue voete kry en wou die transaksie kanselleer. Toe Van Zyl by die winkel instap, het sy probeer weghardloop, maar die personeel het die deur gesluit. Muncinelli het haarself toe in die badkamer gaan toesluit, terwyl winkelpersoneel die polisie ontbied het.

Die polisie kon Muncinelli oorreed om uit die badkamer te kom. Sy het egter, volgens Van Zyl, ontken dat sy aankope wou doen en ook ontken dat sy in besit is van ‘n Finse paspoort.

“Toe ek die fotokopie van haar paspoort vir haar en die polisie wys, het haar oë groot gerek,” vertel Van Zyl. Kort daarna het die polisie Muncinelli se paspoort in die toilet gevind. Sy het dit opgeskeur en probeer wegspoel. Sy is kort daarna in hegtenis geneem.

“Volgens die polisie is die vrou deel van ‘n massiewe bedrogsindikaat wat vanuit Gauteng funksioneer en spesialiseer in die vervalsing van kredietkaarte, identiteitsdokumente en paspoorte,” sê Van Zyl en voeg by dat bedrog met kredietkaarte baie maklik is.

“Ek mag nie vir jou vra vir jou ID nie en kan slegs gaan op die naam en handtekening op jou kaart. Waar trek jy die streep?” vra Van Zyl. Gelukkig het die tak in Songozwistraat geen verliese gely nie, maar Van Zyl was minder gelukkig. Die transaksie met die vervalste kredietkaart sal teruggeskryf word terwyl die goedere wat aangekoop is, skoonveld is.

Kapt. Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, het by navraag die voorval bevestig en genoem dat ‘n verdere twee verdagtes insake die voorval aangekeer is. Die drie verdagtes het op 15 Mei in die hof op Louis Trichardt verskyn op klagte van bedrog, maar hul saak is uitgestel. Intussen, sê Sadike, is die ondersoek oorgeneem deur die Georganiseerde Handelsmisdaadeenheid in Thohoyandou.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines