

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 May 2009
Twee vroue van Groningen Woonstelle op Louis Trichardt het Dinsdag, 12 Mei so ampertjies die slagoffers geword van motordiewe.
Een van die inwoners van die woonstelgebou in Bredastraat, wat onraad vermoed het toe sy sien dat die elektriese motorhek oopstaan, het alarm gemaak en dadelik die dorpswag en polisie geskakel.
Mev. Annemarie Bezuidenhout, wat in die voorste blok woonstelle woon, het ongeveer 04:00 wakker geword van ‘n vreemde geluid en kort daarna gesien hoe twee mans by die hek uitstap. Met die aankoms van die dorpswag en polisie op die toneel is daar gevind dat die twee mans wel probeer het om twee van die inwoners se voertuie te steel.
Die rowers het vermoedelik eers oor die palisade-heining geklim, die slot by die hek afge-knip en die hek uit sy spoor getel. Hierna het hulle eers probeer om die Ford-bakkie van mev. Annatjie Behmer te steel. Die slot by haar motorhuis is ook afgeknip. Die bakkie se deur is oopgebreek om by die bedrading uit te kom. Met hul gepeuter met die drade was daar vermoedelik ‘n kortsluiting en kon die bakkie nie aangesluit word nie. Dorpswaglede moes later die battery ontkoppel, want die kopligte het aangehou brand.
Nadat hulle eerste poging misluk het, het die rowers besluit om eerder ‘n ander voertuig te probeer steel.
Die slot by Mev. Joan Fourie se motorhuis is ook afgeknip. Haar Toyota Carolla se hele sekeringskissie is oopgeforseer en al die drade is uitgepluk en in ‘n kraaines agtergelaat. Die skelms het toe die enjinkap oopgemaak en probeer om die motor met ‘n stuk koperdraad en doekspeld aan te skakel. Hulle was op die punt om te ry, toe hulle vermoedelik geskrik het vir mev. Bezuidenhout, wat haar venster oopgemaak het om te kyk wat aangaan.
Die skade aan mev. Behmer se bakkie beloop sowat R1 000.
“Ek is net dankbaar dat hulle nie met my bakkie weggekom het nie.”
Sy het ook haar vriendin, Annemarie, bedank vir haar vinnige optrede, sowel as die dorpswag en polisie wat so vinnig uitgekom het om hulle te help.
Polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het bevestig dat nog niemand in verband met die voorval gearresteer is nie.

ADVERTISEMENT:
