ADVERTISEMENT:

 

Boere ervaar negatiewe impak van “oop grens”

 

News  Date: 22 May 2009

 

Boere noord van die Soutpansberg begin reeds die negatiewe gevolge voel van die regering se onlangse besluit dat Zimbabwiërs voortaan sonder ‘n paspoort en ‘n visum Suid-Afrika mag binnekom.

Dit volg nadat me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van binnelandse sake, en haar twee Zimbabwiese ampsgenote, genl. Giles Mutsekwa en Kembo Mohadi, ‘n ooreenkoms onderteken het om die vryheid van beweging tussen die twee lande te vergemaklik. Terwyl baie meen die besluit maak geen noemenswaardige verskil ten opsigte van die hoeveelheid Zimbabwiërs wat die land binnestroom nie, aangesien duisende in elk geval onwettig die grens oorgesteek het, is daar diegene wat verskil.

Een van hulle is mnr. Willem van der Merwe van die plaas Hermanus in die Mopanie-distrik. Volgens hom het hy ‘n merkbare toename opgemerk in die getal Zimbabwiërs wat op plase en plaaspaaie rondbeweeg. Terselfdertyd het hy ook ‘n toename in misdaad opgemerk, met hyself wat hierdie week deurgeloop het. Een van sy arbeiders het hom Dinsdagoggend vanaf die plaas geskakel en meegedeel dat twee van sy skape in die kraal met klippe deur die nag doodgeslaan is. ‘n Derde skaap, wat erg vermink is, moes vankant gemaak word. Een van sy buurmanne het ook twee weke gelede deurgeloop, nadat booswigte sy plaaswoning leeg gestroop het.

Volgens Van der Merwe het hulle tot voor die minister se aankondiging bitter min, indien enige, probleme op hul plase ondervind. Hy skryf die toename in Zimbabwiërs en misdaad direk toe aan die regering se “oop grens” beleid.

“As hierdie mense oorkom is hulle honger en sonder geld. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat hulle uit nood gaan begin steel en roof,” sê Van der Merwe. Hy het derhalwe boere versoek om veiligheidsmaatreëls op plase op te skerp.

“Klein goedjies kan die verskil maak, soos om jou gewere se slotte uit te haal wanneer dit nie gebruik word nie. Dit sal die wapen onskadelik stel indien dit gesteel sou word. Jy wil tog nie met die buurman se vuurwapen doodgeskiet word nie,” sê Van der Merwe.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines