ADVERTISEMENT:

 

‘n Paar van die sakke vermoedelik gesteelde koperdraad wat binne die polisiekaptein se voertuig gevind is. Die straatwaarde van die koperdraad word geraam op bykans R10 000.

Polisiekaptein moet verduidelik

 

News  Date: 29 May 2009

 

‘n Polisiekaptein verbonde aan die SAPD se uniformtak op Louis Trichardt het heelwat verduideliking om te doen, nadat sy voertuig Maandagoggend verlate op die Vondelingpad gevind is met ‘n vrag (vermoedelik gesteelde) koperdraad daarin.

‘n Boer van Vondeling Plot 13, mnr. Paul Botha, het vertel dat hy Maandagoggend omstreeks drie-uur deur sy honde wakker geblaf is. Hy het sy flits gevat en gaan ondersoek instel. Buite het hy ‘n man in ‘n voertuig aangetref wat op sy erf gestop het. Sy voertuig het klaarblyklik onklaar geraak.

By nadere ondersoek, sê Botha, het hy gesien dat die man erg onder die invloed van alkohol was. Botha het vir hom gevra wat hy daar soek, waarna die bestuurder, volgens Botha, hom meegedeel het dat hy ‘n polisieman is en dat niemand vir hom kan sê waar hy mag ry nie. Die bestuurder was ook oortuig daarvan dat hy op die Elim-pad was.

“Toe ek die pistool-holster langs die man sien, het ek opgehou om met hom te argumenteer,” sê Botha. Hy en van sy plaaswerkers het daarna, op aandrang van die “polisieman”, gehelp om die voertuig weer aan die gang te stoot.

“Hy draai toe weer in die verkeerde rigting. Maak nie saak hoeveel keer ek vir hom gesê het hy kan nie daardie kant toe ry nie, het hy aangehou om met my te stry. Ek het hom toe gelos, want ek wil beslis nie die heel aand met ‘n dronk man staan en argumenteer nie,” sê Botha. Hy sê die man wou ook nie hê hy moes in sy voertuig kyk nie.

“Ek het gewonder hoekom sy motor so swaar gelaai was,” sê Botha.

Teen dagbreek het Botha gemerk dat die einste voertuig nie ver van sy huis langs die pad vasgeval het toe die bestuurder klaarblyklik gepoog het om ‘n U-draai op die smal tweespoor-paadjie te maak. Omdat die voertuig die pad gedeeltelik versper het en daar geen teken van die bestuurder was nie, het ander padgebruikers die polisie en verkeersafdeling geskakel.

Kort na die verkeersafdeling se aankoms by die voertuig, het die bestuurder, saam met twee helpers, teruggestap gekom. Hy het iets uit die voertuig gehaal en dit gesluit.

“Ek het vir die verkeersbeamptes gesê hulle moet die man vang, want hy gaan hardloop,” sê Botha. Skaars was sy woorde koud, of die bestuurder het begin hardloop. Botha het hom agternagesit en hom aan die broek beetgekry. Die man het egter losgeruk en is die bosse in. Een van Botha se plaaswerkers is verder agter hom aan en kon op sy beurt daarin slaag om die man se baadjie te gryp. Die man het egter losgeskeur en ontsnap. Toe die baadjie skeur, het daar egter ‘n borg-kwitansie uit die man se sak geval. Dit was vir ‘n man wat verlede week op borg vrygelaat is.

Met die polisie se aankoms is verskeie sakke vermoedelik gesteelde koperdraad op die voertuig se agterste sitplekke, asook in die kattebak, gevind. Die grootste verrassing het egter gekom toe die polisie die sakke koperdraad optel en dele van die polisiekaptein se uniform, pet en epoulette met sy van daarop vind. Daar was ook ‘n polisie-dagboek van hom in die voertuig, asook sy dienspistool se holster (sonder die pistool). Daar is ook bevestig dat dit wel die polisiekaptein se voertuig is.

Hierdie verdoemende “bewyse” het dadelik omstanders laat meen dit is ‘n klassieke geval van om vir wolf skaapwagter maak. Talle was ook dadelik oortuig daarvan dat die polisie niks omtrent die saak gaan doen nie.

Supt Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het egter by navraag gesê dit sal beslis nie die geval wees nie. Sy het bevestig dat hulle reeds bewus is van die voorval op provinsiale vlak, maar dat die saak tans deur die plaaslike polisiestasie, waar die kaptein gestasioneer is, ondersoek word.

“Dit kan dalk gebeur dat die saak later oorgegee sal word aan die polisie se georganiseerde misdaad eenheid,” het Otto gesê.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Woensdag bevestig dat die polisiekaptein dieselfde dag gevra is om ‘n verklaring te kom aflê. Hy is egter nie gearresteer of geskors nie en verrig steeds diens. Sadike kon nie uitbrei oor die inhoud van die kaptein se verklaring nie, aangesien hy dit nog nie self gesien het nie. Klaarblyklik het die kaptein wel bevestig dat dit sy voertuig is, maar hy ontken enige kennis oor hoe die voertuig daar gekom het en die koperdraad in die voertuig.

“Ons ondersoek fokus tans op hoe sy voertuig daar gekom het,” het Sadike gesê.

Volgens inligting het die polisiekaptein intussen ‘n klag van voertuigdiefstal geopen. Hy het klaarblyklik ‘n ander voertuig waarmee hy ry, maar verduidelik nie waarom sy polisie-uniform en dagboek in die betrokke voertuig gevind is nie.

“Die hele saak is bietjie deurmekaar in hierdie stadium,” sê Sadike.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines