

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 May 2009
Met die klein pasiëntjie in die waakeenheid van die Zuid-Afrikaanse Hospitaal gaan dit op en af.
Klein Reinhardt was Sondag vol laggies en geselsies, maar sy ouers, Ryno en Louise Smit van Louis Trichardt, kan nie in hierdie stadium sê dat dit goed gaan nie.
Verlede week is die driejarige Reinhardt, wat op 20 April met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is, aan ‘n ventilator gekoppel.
“Hy het ‘n bietjie hartversaking gehad en as gevolg daarvan, en ook die infeksie en slym in die longe, het hy nie meer die krag gehad om self asem te haal nie. Die ventilator het hom goed gedoen,” sê ma Louise. Die ventilator is Sondagoggend afgehaal en dis toe dat Reinhardt vol storietjies en laggies was. Die volgende oggend het hy amper in sy eie slym verstik en versmoor. Hy is swak en moet gehelp word om sy lyfie en koppie te draai.
Dinsdag het hy ‘n glimlaggie gehad vir die selfoonfoto. Ma Louise het sommer ook al die haartjies afgeskeer. Reinhardt kry gereeld rooibloedselle, plasma en bloedplaatjies.
Reinhardt het 60% van sy eerste kankerbehandeling voltooi en die beenmurgtoets het ‘n dramatiese vermindering in kankerselle getoon. Nou baklei hy nog hard terug na terugslae as gevolg van die verswakte liggaampie. Hy moet eers weer sterker word voordat hy weer ‘n beenmurgtoets kan ondergaan of met die behandeling kan voortgaan.
Hy is sedert 14 Mei in die waakeenheid en is onder behandeling van onkoloog dr. Lourens de Jager en pediater dr. Mollentze.
Louise en Ryno sê hulle het al behoorlik wortel geskiet in die waakeenheid. Hulle waak by Reinhardt en is voltyds besig om mekaar en Reinhardt positief te hou. Tussendeur neem hulle beurte om uit te gaan en saam met Oupa en Ouma met kleinboet Ewan (2) te speel. Ewan verlang al na sy boetie, want hy mag hom nie nou besoek nie. Uitputting begin sy tol op die ouers eis, maar hulle is innig dankbaar vir die wye ondersteuning wat hulle ontvang.
Lize Strauss, ‘n familievriendin, het ’n e-pos uitgestuur en sê dat sy al amper 50 oproepe gekry het van mense wat wil help, ook van oorsee. AB+ bloedskenkers hoef nie te meld dat die bloed vir Reinhardt is nie, hulle kan maar net gereelde bloedskenkers word. Finansiële bydraes kan inbetaal word by Van Heerden en Rudolph Trust Rekening, ABSA Bank Louis Trichardt, Rekeningnommer 100 574 0840, Verwysing: Reinhardt Smit Fonds.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
