ADVERTISEMENT:

 

Andrew Lumbe (agter, tweede van regs), ‘n KNP-ondersoekbeampte, saam met mede-veldwagters buite die hof op Louis Tri-chardt.

Strawwe vonnis vir renoster-jagter

 

News  Date: 29 May 2009

 

‘n Sestigjarige man van Mosambiek is Dinsdag in die streekhof op Louis Trichardt tot 19 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die onwettige jag van twee witrenosters ter waarde van sowat R550 000.

Sebastian Ponga Ngulele is in Oktober 2007 tussen Vlakteplaas en Shingwedzi in die Kruger Nasionale Park (KNP) gearresteer. Twee renosterhorings, met ‘n waarde van tussen R110 000 en R170 000, en ‘n onwettige vuurwapen, is in sy besit gevind.

Volgens die getuienis van KNP-veldwagters, het hulle op Ngulele afgekom waar hy besig was om te voet met ‘n streepsak oor die skouer in die wildtuin te stap. Toe hy die veldwagters gewaar, het Ngulele laat spaander, maar die veldwagters het hom ingehaal en arresteer. Na sy verklarings afgeneem is, het Ngulele die ondersoekbeamptes na die karkasse van die renosters geneem waar hy hulle geskiet het.

Ngulele het tydens sy verhoor egter aangevoer dat hy deur die ondersoekbeamptes in die saak geïntimideer en aangesê is om sekere misdaadtonele en be-wysstukke uit te wys. Hy het ook beweer dat hy deur een van die veldwagters met die agterkant van ‘n geweerkolf oor sy linkerhand geslaan is en eers ‘n bekentenis gemaak het nadat hy na bewering deur die veldwagters met ‘n boomtak geslaan is.

Vier veldwagters het egter getuig dat hulle gesien het hoe Ngulele in ‘n sloot val, terwyl hy gepoog het om arrestasie vry te spring. Wat die uitwyssings betref, het ‘n veldwagter ook getuig dat van die tonele wat deur Ngulele aan hulle uitgewys is, selfs vir hulle [die veldwagters] totaal onbekend was.

Ngulele is skuldig bevind op ‘n klag van diefstal, die onwettig jag van twee witrenosters en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.

Hy is onderskeidelik vier en tien jaar gevangenis straf opgelê op die klagte van diefstal en die onwettige jag van renosters. Hy sal dié vonnisse gesamentlik uitdien. Op die klag van die onwettige besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen is Ngulele vier jaar gevangenisstraf opgelê.

Ngulele het na vonnisoplegging aansoek gedoen om verlof tot appél, maar die hof het sy aansoek afgekeur.

Mnr. Andrew Lumbe, ‘n KNP-ondersoekbeampte, was teenwoordig tydens Ngulele se vonnisoplegging. Hy en mede-veldwagters het buite die hof diereregte-baniere vertoon en hul tevredenheid uitgespreek oor die vonnis. Lumbe het die hoop uitgespreek dat Ngulele se vonnis ander onwettige jagters sal af-skrik.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines